Midvaal se jong kolfmeester haal Lions o13 span
Divan is 'n rolmodel vir die jonger krieketspelers in die Vaal.
MEYERTON – Uit meer as 140 skole in Gauteng is slegs twaalf jong krieketspelers gekies om die gesogte Sentraal Gauteng Lions o13 A-krieketspan te verteenwoordig, en Divan Nel van die Laerskool Midvaal is een van dié uitverkorenes.
Sy uitsonderlike prestasies het vir hom ‘n plek in die provinsiale span verseker, wat die hoogste vlak van krieket vir sy ouderdomsgroep is.
Divan, ‘n graad sewe-leerling, sal van 28 November tot 2 Desember aan die Krieket Suid-Afrika o13 Nasionale Toernooi in Benoni deelneem.

Statistieke
Divan se seisoen op die krieketveld was eenvoudig fenomenaal. As sleutelfiguur in sy skool se eerstespan het sy kolfstatistieke die norm oortref:
Totale Lopies: 1 109 lopies in 16 wedstryde (9 opwarmings- en 7 ligawedstryde).
Honderdtalle: Hy het ses 100-plus tellings, een 50-plus telling, en ‘n uitsonderlike telling van 174 lopies behaal.
Grenshoue: Hy het 108 viere en 65 sesse geslaan.
Gemiddeld: Hy spog met ‘n kolfgemiddeld van 101 lopies en ‘n treftempo van 183.

Dit is geen verrassing dat die talentvolle jong man as kaptein vir die Sedibeng o13-span verkies is nie, ‘n rol wat hy ook reeds vir die Sedibeng o11 en o12 spanne vervul het.
Wat Divan se prestasie besonder maak, is dat hy nog geen private krieketlesse ontvang het nie. Sy pa, Francois Nel, wat ook sy grootste ondersteuner is, het Divan op ‘n jong ouderdom self begin afrig.
“Ure se harde oefening, honderde kilometers se ry na verskeie toernooie, ure langs die krieketveld en al die ander opofferings as gesin was aan die einde van die dag die moeite werd,” sê ‘n trotse Francois.
Francois voeg by dat dit Divan se passie en uitstekende werksetiek is wat hom so uitsonderlik maak, asook die feit dat hy, ten spyte van sy sukses, steeds nederig bly.
