VEREENIGING – Sy het onlangs twee toekennings by die SACMAF Toekenningsaand verower, maar dit was so amper of Landee se goue stem is nooit weer gehoor nie.
Sy het van kleins af gesing, maar in haar tienerjare het ‘n dronkman tydens ‘n vertoning sy drank oor haar uitgegooi omdat hy nie van haar sang gehou het nie.

Net daar het sy besluit sy gaan nooit weer sing nie. “Ek het wanneer ek alleen by die huis was vir myself gesing. Sommer ‘n goedkoop klankstelsel gehad,” vertel sy.
Dit was totdat haar man eendag onverwags by die huis gekom het. Hy was verstom toe hy hoor hoe goed sy kan sing.
Kort voor haar 30ste verjaarsdag het haar suster besluit om aan ‘n sangkompetisie deel te neem. Sy wou dit nie alleen doen nie en tussen haar en Landee se man het hulle haar omgepraat om ook deel te neem.
“Ek het tot die finale rondte deurgedring en besef musiek het my gekies. Ek kan nie daarvan wegkom nie. Dis wat ek wil en moet doen.”
Dit was juis in hierdie tyd wat sy ook besef het die lewe is kort, jy moet doen wat jy kan terwyl jy nog kan. Dit nadat sy op 30 twee hartaanvalle twee maande uitmekaar gehad het.
Die musiektalent het sy van haar ma se kant van die familie gekry. Haar ouma was ‘n sangeres totdat sy vanuit Engeland na Suid-Afrika verhuis het en albei haar ooms kan bykans enige instrument optel en op gehoor begin speel.
Landee is in Newcastle gebore, waar die gesin gebly het totdat sy 12 jaar oud was. “My oupa het toe werk gekry by Yskor in Vanderbijlpark en ons het eers Johannesburg toe en later Vanderbijlpark toe getrek om nader aan hom te wees.”
So het sy ‘n Valie geword en een gebly. Al het sy nog ‘n halfdag pos, bestee sy die meeste van haar tyd die afgelope agt jaar aan haar musiek.
“Ek het ‘n hele army agter my wat my ondersteun,” lag sy. Sy het ook besluit niks kan haar stop nie en so het sy al meer bereik in agt jaar as wat baie mense in ‘n leeftyd bereik het.
Alhoewel sy enige genre kan sing, van Pop tot Rock en musiek uit die 80’s en 90’s, is haar hart by Country. Oor die twee SACMAF toekennings is sy nog steeds verbaas.
“Ek het dit glad nie verwag nie, maar dis lekker om erken te word vir die harde werk wat jy insit.”
Wanneer sy nie besig is met optredes nie, verkies sy om by die huis te wees saam met haar man, twee seuns, ses Yorkies en Jan die groen papegaai.
Gaan volg Landee gerus op Facebook en ander sosiale platforms om op hoogte te bly van haar musiek en optredes.
