News

Coenie en Rocco – wat ‘n uitstekende kombinasie

Hulle is dalk nie almal se koppie tee nie, maar Sondag se vertoning was lekkerder as koffie en boerbeskuit. 

SASOLBURG – Sondag het twee van die land se beste vermaaklikheidskunstenaars en pianiste voor ‘n bykans vol Etienne Rousseau Teater verskyn.

Coenie de Villiers en Rocco de Villiers is uiteenlopend van aard, maar albei geseën met hope talent.

Coenie, Lydia Steyn, Rocco en Jacomien Brits. Die twee dames het die vertoning baie geniet. Foto’s: Gerda Bruinette

Coenie was, soos altyd, netjies geklee in sy swart broek en baadjie en Rocco was sy natuurlike uitspattige self in ‘n giggelgeelbaadjie, kortbroek en tekkies.

Hulle het van meet af die gehoor in die holtes van hul bekwame hande gehou.

Met skerp kwinkslae, en veral Rocco wat gereeld van die teks afgewyk het, het die gehoor se lagspiere oortyd gewerk, terwyl mens tydens hul musikale uitvoerings kort-kort ‘n wow of ‘n sjoe gehoor het.

Die manne het behoorlik elke genre onder die klawers laat deurloop van ballades tot Rock, klassiek en boeremusiek.

Tussenin is daar stories vertel en Coenie het ‘n hoendervleis mooi gedig uit Rocco se nuwe digbundel voorgelees, terwyl Rocco die agtergrond musiek verskaf het.

Jong Jean de Korte was hoogs in sy skik om Coenie de Villiers en Rocco de Villiers te ontmoet en het gevra dat hulle die gips op sy arm teken.

Met hul laaste wuif, het ek gewonder hoekom hul vertoning so kort was. Groot was my verbasing toe ek besef daar het meer as ‘n uur en ‘n half verloop.

Die Vorsters het al die pad van Parys gekom om die vertoning te sien. Evan en Rico is ‘n tweeling en kon nie wag om die kunstenaars te ontmoet nie. Saam met hulle is hul ma Roelien. Foto: Gerda Bruinette

Soveel talent, soveel passie. Hulle het almal weggevoer gehad na ‘n ander wêreld waar stres nie bestaan nie en net vreugde en musiek sin maak.

Dankie aan Herman van Niekerk wat die twee musiekreuse Sasolburg toe gebring het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Check Also
Close
Back to top button