‘n Roos te midde van die eerste krieketspan dorings
Sy is die roos te midde van die "dorings," maar sy staan haar man.
VANDERBIJLPARK – Leandroché Mathysen het onlangs geskiedenis gemaak as die eerste dogter in die Laerskool Eligwa se eerste krieketspan.
Sy het vanjaar die geleentheid gekry om vir die skool se eerste span te speel, en wat die jaar dubbel spesiaal maak, is dat die span ook die trotse wenner van die liga is!
Leandroché, wat aan die einde van November 13 word, spog reeds met vyf jaar se krieketervaring.
Sy het in 2021 begin as paaltjiewagter, maar is ook welvarend met die kolf in die hand. Sy het in graad vier reeds ‘n 50-tal behaal – ‘n bewys van haar talent.

Haar wil om krieket te speel verdien erkenning. Dit is die resep van ‘n toekomstige kampioen.
As daar nog nie geleentheid vir dogterskrieket by laerskole is nie, speel dan maar saam met die seuns!
En vrouekrieket se gewildheid is vinnig aan die toeneem. Kyk maar net hoe volgepak was die stadion verlede Sondag tydens die Vroue Wêreldbeker-eindstryd tussen Indië en die Proteas.
Leandroché se krieketrolmodel is natuurlik die Protea-legende, Marizanne Kapp.
“Ons het ‘n ooreenkoms met haar gehad: sy mag krieket speel, maar sy moet ook netbal speel. Sy voldoen aan die vereiste, maar dit is duidelik waar haar hart lê. Ons is baie trots haar,” sê haar ma, Liezel.
Wanneer Leandroché nie besig is met skoolwerk of sport nie, speel sy graag met die gesin se varkhond, Dingo, en hul drie katte.
Onthou gerus die buitegewone naam, die kanse is goed dat sy nog baie grense gaan verskuif.

