VANDERBIJLPARK – Wie sê onderwysers laat nie ‘n blywende indruk op skoliere nie?
‘n Groep leerlinge wat in 1977 aan die Hoërskool Vanderbijlpark gematrikuleer het, het op 9 November mev. Rina Bosch op haar 80ste verjaarsdag verras en sommer heerlik fees in die geheim gevier.
Bosch het baie jare wiskunde, meetkunde en algebra by skoolkinders ingedril en met haar unieke persoonlikheid gesorg dat die kinders ‘n liefde vir haar vak ontwikkel.
“Sy het ons geïnspireer en ons geleer om groot skoene vol te staan in die samelewing, respek en dankbaarheid as lewensbeginsels in ons wese te vestig. Vandag is ons uiters dankbaar vir haar bekende paplepel, met die het sy meesterlik die pad aangedui.
Sy het moeite met elke kind gedoen en kwalik jou naam vergeet. Nou na 52 jaar kan ons net dankie sê. Mevrou, dit was heerlik in jou klaskamer,” het Elize Hartley een van die oud-leerlinge gesê. Benewens al die lekker snoepery is daar ook staaltjies gedeel en geskaterlag.
Daar is teruggedink oor mev. Bosch se raad en teregwysings wat broodnodig was. Elize het die dag so opgesom. “Daar is gelag, met oorgawe gelag, en daar is trane weggepik. Toe het ons almal geweet a + b = y maak uiteindelik sin en dit als was die moeite werd.”
