NewsNews

Oor vergeetagtigheid en ‘n hondjie sonder ore

RUBRIEK - My honde kan goed hoor, hulle luister nie, veral nie as ek haastig is nie.

RUBRIEK – Nou die anderdag ontmoet ek en ons verkoopsbestuurder mekaar by die trappe van die kantoorgebou.

Sy lag omdat ons albei se hande vol is. “’n Luiaard dra hom dood,” sê sy.

“Ja,” seg ek, “ek is elke dag in pak-donkie-mode.” Elke oggend piekel ek my kamerasak, rekenaarsak en swartsak met allerhande dinge van my motor kantoor toe.

Die dag het ek alles in gehad van ‘n sambreel (ek het die vorige middag nat gereën), tot by ‘n lig wat gelaai moes word.

Ons area was weer die vorige dag sonder krag, en ek het liewer by die kantoor lig gelaai as by die huis, want mens weet nooit wanneer groet die substasie weer nie.

Was baie trots op myself, want ek het vir ‘n verandering selfs onthou om ‘n toebroodjie te maak en in te pak.

Dit was so met die uitpak slag wat ek besef het my selfoon is nie by my nie. Van alle dinge om te vergeet!

Ek maak eers inderhaas dringende werk klaar en toe loop ek summier weg om die selfoon te gaan haal.

Weet nie meer presies wanneer het ons so afhanklik geraak van die goed nie, maar sonder my foon voel ek of ek half aangetrek is.

Daar is weliswaar ‘n telefoon op my tafel, maar die se kode het ek in al die jare nog nooit gevra nie en as dit die slag lui, dan spreek ek eers in tale voor ek dit optel.

Alle geval, so kom ek met spoed by die huis aan. Die drie honde baie bly om my in die middel van die oggend te sien. Hulle snel dadelik na die agterdeur om ‘n draai te loop.

Intussen soek ek my selfoon. Nie in die kamer soos wat ek verwag het dit sou wees nie. Ook nie in die kombuis nie. Ek kyk naderhand selfs in die badkamer.

Spoor die ding uiteindelik in die studeerkamer op. Twee van die honde het intussen weer ingekom, maar waar is Antjie?

Dié lê rustig in die son vlak voor die agterdeur. “Antjie kom in, baba. Ek moet ry.” Sy ignoreer my.

Ek probeer weer. “Annnaaa, kom nou. Ek is haastig.”

Weer word ek geïgnoreer en sal sy nie wraggies vir my tong uitsteek nie!

Intussen het Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi van die geleentheid gebruik gemaak om ook weer uit te glip en lê op ‘n afstand die stryd en beskou.

Ek gee moed op met Antjie en begin by Bessie. Ek voel soos ‘n wafferse skaaphond wat skape in die kraal moet jaag. Kry vir Bessie in. Dan vir Heidi.

Antjie lê steeds of sy geplant is. Eers toe ek direk agter haar gaan staan en haar op haar volle name aanspreek, Anna Catharina Pieternella, kom sy traag in beweging en vind haar weg terug na die kombuis.

En wraggies waar, in my haas om toe te sluit en by die voordeur uit te kom, vergeet ek amper weer my selfoon op die tafel. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Check Also
Close
Back to top button