VAALPARK – Charlotte Bresser se eerste boek, Pyrotecnics, vlaggies en balonne, is vir haar ‘n droom wat waar geword het.
Kunstenaar, die was sy nog altyd. Nie net het sy self al menige uitstallings gehou nie, maar sy was vir jare kunsonderwyseres en later ook moderator.
Charlotte onthou die dag toe sy finaal afgetree het. “Ek het reeds my afskeidspartytjie vroeër gehad en die dag wat ek finaal my sleutel ingehandig het, was daar niemand meer by die skool nie. Ek het soos ‘n weeskind gevoel toe ek by die hek uitry en dit ook so op ons familiegroep gedeel.”
“Dis toe dat my dogter, Marike wou weet: ‘Wat wou mamma gehad het, pyrotecnics, vlaggies en balonne?’”
Sy het weer daaraan gedink toe sy ‘n titel vir haar boek moes kies, en besluit dit pas perfek.
Die boek beskryf sy as ‘n reisjoernaal, nie net ‘n fisiese een nie, maar ook in die kop. Charlotte gaan nêrens sonder haar tekenboek, notaboek en waterverf nie.
“Gaan ons met vakansie dan is my teken goed altyd op my skoot, want mens weet nooit wanneer sien ek iets raak wat ek wil verf of teken nie,” verduidelik sy.
Sy beskou haarself as ‘n rekordhouer. “Ek het baie albums vol foto’s en baie boekies vol sketse en waterverf skilderye. Wanneer ons op vakansie is, deel ek gereeld van dit op my Facebookblad,” vertel sy.
Dis hier waar Myra Lochner die stories en sketse raakgesien het en Charlotte gekontak het om dit in ‘n boek saam te vat. Dit was al in 2019.
Charlotte het uiteindelik in 2022 begin om deur alles te sif en bymekaar te sit. In 2024 het die proses begin om die boek te finaliseer.
“Ek het nooit besef watse groot proses dit is om ‘n boek te publiseer nie. Die manuskrip het seker vyf keer tussen my en Myra hande gewissel en elke keer is daar iets verander. Ek dink ek ken elke storie nou uit my kop uit,” lag sy.
Haar beker het oorgeloop toe sy uiteindelik die eerste kopie van Pyrotecnics, vlaggies en balonne in haar hand gehad het.
Die boek is gevul met die mooiste waterverf en pensketse en elke storie daarnaas is ‘n belewenis.
Om die boek te bekom, kontak gerus vir Charlotte by 082 896 4685.
