‘n Bejaarde ma se noodkreet
Die ouderdom het haar ingehaal en haar 39-jarige gestremde dogter, Magda Esterhuizen, benodig voltydse versorging.
VANDERBIJLPARK – ‘n Hartroerende noodkreet kom van ‘n 72-jarige moeder, wat na jare se onbaatsugtige versorging, die breekpunt bereik het. Sy is te oud om langer na haar gestremde 39-jarige dogter, Magda, om te sien.
“My ma het seer en kan regtig nie meer volhou met die versorging van my sussie nie. Sy is op breekpunt,” sê Christelle, een van Magda se drie susters.
Die gesin het reeds swaar verliese gely – hul pa, Awie, moes in 2023 albei sy bene laat amputeer, waarna hy kort daarna die stryd verloor het.

Die susters het ‘n lewenslyn gevind: Els Medsorg, net buite Vereeniging, is bereid om Magda in te neem teen ‘n koste van R6 000 per maand. Die uitdaging is egter die fondse.
“Ons moet die bedrag dadelik betaal en daarna elke 7de van die maand. Ons het ongelukkig nie die nodige fondse daarvoor nie,” verduidelik Christelle.
Die gesin pleit nou by die gemeenskap, besighede, en enige barmhartige Samaritane om hulle te help om hierdie maandelikse bedrag in te samel sodat Magda die veilige en nodige versorging kan ontvang.

“Ons hoop die Here tree in dat iemand haar vir ‘n jaar of twee, of vir hoelank die Here haar nog vir ons spaar, sal kan help,” sluit Christelle af.
Daar is selfs ‘n opsie vir skenkers om die fonds direk aan Els Medsorg oor te betaal, wat absolute deursigtigheid verseker.
Die gesin sal op hoogte gehou word van alle fondse wat inkom.
Vir meer inligting oor hierdie dringende saak, of om Els Medsorg se bankbesonderhede te bekom om ‘n bydrae te maak, kontak Christelle by 082 600 1144.
