Bonanne rioollek ‘n gesonheidskrisis
Daar is nog geen sekerheid oor presies wanneer die probleem opgelos gaan word nie.
VANDERBIJLPARK – Inwoners van Bonanne kleinhoewes net buite Vanderbijlpark is raadop met ‘n reuse rioollek wat die lewe vir hulle ondraaglik maak.

Volgens Bazil Gouws van 7 Rautenbachstraat wat reg langs die hoof riooldrein van Bonanne bly, is dit reeds ʼn maand gelede by die Emfuleni Munisipaliteit (ELM) aangemeld dat die drein geblok is.
“Die riool stoot al in ons erf in. Ons mure gaan een van die dae omval. Ek het dit al oral aangemeld. By die munisipaliteit en raadslede.
Ons betaal so duur op ons munisipale rekening, maar kry geen diens nie. Ons bly al amper vyf jaar hier en het nog nooit vullisverwydering gekry nie,” sê hy moedeloos.
Die lugfoto’s wat Gouws met sy hommeltuig geneem het toon die grootskaalse omvang van die probleem.

“Mense is besig om siek te word. Dit vrot in ons huise. Niemand kan so lewe nie. As ek bel word daar net gesê dit is aan die betrokke afdeling gerapporteer.”
Volgens Gerda Senekal, raadslid van die Vryheidsfront Plus wat verantwoordelik is vir basiese riool wat deel uitmaak van munisipale dienste in die wyk, is daar verskeie vergaderings gehou en die kwessie is aangespreek.
Daar is tans vordering. Rand Water is ook reeds besig daarmee. Ons is al ʼn redelike stap verder en weet presies wat die probleem is en waar dit vandaankom asook die moontlike oplossings,” het sy aan Vaalweekblad gesê.
