Sanger eer kultuur en land met nuwe enkelsnit
Plaaslike sanger Jay Gibson se nuwe enkelsnit, Volksgrond, gaan diep spore in aanhangers se harte trap, omdat dié liedjie Afrikaners se stories en geskiedenis met deernis vasvang.
VANDERBIJLPARK – Jay het in Vereeniging groot geword en woon tans in Vanderbijlpark saam met sy vrou en twee kinders.
Hy het het op vierjarige ouderdom die dromme begin speel en op dertien het hy die kitaar baas geraak.
Toe hy sewentien jaar oud was het hy sy eerste sangkompetisie gewen.

“Ek is al vir 21 jaar lank in die musiekbedryf en kan amper elke instrument speel behalwe die trekklavier, konsertina, viool en harp,” verklap Jay oor sy musiekervaring.
“Ek sal myself klassifiseer as ’n sanger, musikant, liedjieskrywer en vervaardiger. Tans vervaardig ek baie musiek vir ander kunstenaars in my ateljee,” vertel Jay.
Bedags is hy ’n gekwalifiseerde veiligheidsouditeur wat sy eie beroepsveiligheidsmaatskappy besit.
Volksgrond is sy vierde enkelsnit en ook die een waarvoor hy graag onthou wil word.
“Hierdie liedjie beteken baie vir my, want dit eer ons volk se geskiedenis en skets ook die prentjie oor wat huidiglik in ons land aangaan,” verduidelik Jay.
“Daar is baie verhale wat aan ons nageslag oorgedra moet word en as ons dit nie doen nie gaan al daardie stories van ons erfenis en tradisies uitsterf en dit sal ’n tragedie wees.”
Die ding waarvoor hy die meeste hoop is dat hy Volksgrond nog by baie vertonings kan sing en dat dié eg-Afrikaanse lied ’n huishoudelike naam sal word en net soveel erfenisstatus sal bereik as die kleurvolle stories wat in die lirieke vervat word.
