SASOLBURG – JJ van der Merwe is in graad drie, maar die jongman het ‘n nederige selfvertroue wat menige volwassenes hom sal beny.
Hy stap paraat Fonteine Primêr se voorportaal binne, groet vriendelik en gaan sit dan kiertsregop op die bank in volle afwagting vir die eerste vraag.
“Ek het op die skool se Facebookblad gesien jy het goed gevaar in die Language Enrichment program van die Vrystaat se onderwysdepartement. Wat het dit behels?”
“Dit was eintlik alles in Afrikaans,” verduidelik hy. JJ trek los en vertel in verbasende detail hoe die hele kompetisie verloop het.
“Die kinders wat die beste vaar in Afrikaans in elke graad is eers gekies. Ons het eers by Leeuwspruit Primêr gaan begripstoetse doen en daarna by Vaalpark Primêr. Toe is ek, Josias en Ané gekies om na die finaal in Bloemfontein te gaan.”
Die kompetisie het behels dat die leerders stories lees en daarna vrae oor die stories beantwoord.
“’n Mens kry net 15 minute om alles te doen,” beduie JJ. Oor die verloop van drie dae het die leerders vyf begripstoetse gedoen en op die laaste dag is die wenners aangekondig.
“Ek het net gebid om ‘n plek te kry. Die Here het geweet ek het nie ‘n foon nie, so toe kry ek tweede plek en die prys was ‘n selfoon,” verklaar hy met oortuiging.
Saam met die selfoon, het hy ook ‘n sertifikaat, medalje en ‘n trofee verower.
“Ek was die enigste seuntjie wat plek gekry het, die eerste en derde plekke was meisies.
“Ek sou dit nie sonder Juffrou Desire, Josias en Ané kon doen nie. Fonteine het baie goed gevaar. Ek dink Josias en Ané was in die top sewe,” vertel hy trots.
Hy erken hy was senuweeagtig tydens die kompetisie, maar is dankbaar dat hulle darem “ordentlike, goeie stories” gekry het om te lees.
JJ hou baie van lees en verslind veral Jaco Jacobs se boeke. “Ek hou van Afrikaans, maar Engels is eintlik my beste vak,” trek hy skouers op.
Hy is ook goed in wiskunde en sê hy leer baie in lewensvaardighede.
Naas sy akademie waarin hy goed presteer, speel hy ook krieket en rugby by die skool. Hy geniet redenaarskompetisies en neem ook aan die jaarlikse Kunstefees deel.
JJ dink daaraan om eendag ‘n argitek te word omdat hy baie van teken hou, maar dalk word hy nog ‘n argeoloog wat dinosourusse se bene opgrawe.
Tot dan geniet hy dit om saam met sy jonger sussie in die sandput te speel. “Ons baklei baie,” sug hy, “want sy is soos die baas in die huis.”
Gelukkig is daar darem skool waar hy en sussie nie bymekaar is nie en van skool hou hy sommer baie.
