Twintig verstopte mangate glo oorsaak van rioolkrisis
'n Pyplyn wat in Bophelong afgeblok is vir herstelwerk, het glo bykomende druk op die verkrummellende infrastruktuur geplaas.
VANDERBIJLPARK – Gerda Senekal, raadslid van die Vryheidsfront Plus en Rosmary Anderson, ʼn bekende sakevrou in die Vaaldriehoek en voorsitter van die Federale Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (FEDHASA) het vanmiddag ʼn gesamentlike verklaring uitgereik wat die rioolbesoedelingkrisis by Bonanne en omliggende gebiede aanspreek en verduidelik.
“Die meerderheid van Vanderbijlpark se rioolwater vloei na die Rivierpompstasie by die Emerald Resort and Casino en word dan na die Rietspruit-afvalwaterbehandelingswerke (WWTW) in Bophelong gepomp.
So beweeg dit vanaf die Emerald Resort and Casino, verby die Vaal Mall, verby die Kruising van die Dood en gaan dan op deur Bonnane en Bophelong tot by die Rietspruit-WWTW in Bophelong naby die Dierebeskermingsvereniging.
Die rioolstortings wat mens by die Kruising van die Dood-gebied, Bonanne, Stephano Park, Waatshof en Emerald Isle Creek sien, word veroorsaak deur ongeveer 20 problematiese mangate en pype wat van die weste kant van Alex Road House tot by die Rietspruit-WWTW loop. Dit is ongeveer 3-4 km in omvang,” verduidelik Senekal-hulle.
Hierdie probleem het etlike jare gelede begin en het progressief vererger namate meer en meer mangate en pype geblokkeer of ineengestort het. Ongeveer drie weke gelede is ‘n pyplyn deur ‘n kontrakteur in Bophelong toegestop om te help om ‘n 26-meter-pyp in Bophelong te vervang, aangesien dit huise oorstroom het.
Die aksie het daartoe gelei dat baie meer riool deur die spruit verby Stephano Park, Waatshof en Emerald Isle Creek vloei.
Die kontrakteur het belowe om die lyn teen 12 November te voltooi en dan sal die lyn ontkoppel word, wat die vloei van die riool sal verminder en normaliseer.
“Die eerste prys is egter om al 20 mangate en 3-4 km se pype oop te maak. Wanneer dit gebeur, sal daar geen riool meer deur die spruit loop nie.
Die aksieplan om alles tot normaal te laat terugkeer is soos volg: Al 20 mangate van Bophelong af tot wes van Alex Road House moet oopgemaak word en die pype moet skoongemaak word.
Elke mangat is vier meter diep en baie het sand en rotse daarin, wat veroorsaak dat die lyne verstop raak. Tot dusver is slegs drie skoongemaak. Sommige sal makliker wees om skoon te maak as ander. Die eerste drie was groot werk, maar werk is aan die gang.
“Dit sal ‘n rukkie neem maar ten minste sal die groot toename wat ons in die laaste drie weke gesien het binnekort verminder tot wat dit was. Die ware oplossing om die spruit skoon te maak sal slegs met die res van die mangate gebeur en as die 3-4 km se pype skoon en funksioneel is.
Dit sal etlike weke neem. Ten minste word daar in die regte rigting beweeg. So dit is positief. Hierdie vlak van besoedeling is krimineel en moes nooit toegelaat gewees het om te gebeur nie,” sluit hulle af.
