Local newsNewsNews

Uil van stadige, wrede dood gered

Die uil het uit pure magteloosheid grond toe gevlieg en vir die dood gewag.

ORANJEVILLE – Die dorp is ‘n ware juweel, wat spog met ongerepte natuurskoon wat ‘n mens se siel voed. Hier, soos die meerderheid inwoners, koester plaaslike sakeman Johann Pretorius ‘n liefde vir dier en die natuur.

Dit was juis hierdie verbintenis wat hom onlangs baie bekommerd gelaat het toe hy ‘n jong gevlekte ooruil op sy plaas ontdek het.

Die uil het grond toe gevlieg en gewag vir die dood.

Hy kon nie presies vasstel wat fout was nie, maar het geweet dat die uil dringende hulp nodig gehad het. Sonder versuim het hy die Owl Rescue Centre gekontak.

Die oproep is vinnig beantwoord. Vaughn Veal, ‘n bekende figuur in voëlreddingskringe en die sentrum se verteenwoordiger in die Vereeniging-area, is uitgestuur.

Binne twee uur ná die noodkreet was Vaughn op die toneel. Hy behartig reddings vir die Owl Rescue Centre (onder bestuur van Brendan Murray), asook vir die South African Wildlife Rehabilitation Centre, waar Judy Davidson die uitvoerende bestuurder is.

Die uil het aan trichomoniasis (trich) gely.

Dit was beslis ‘n lewensreddende besluit. Die uil het aan trichomoniasis (trich) gely. Vaugh verduidelik:

“Trich is ‘n infeksie wat roofvoëls opdoen deur besmette voëltjies te vreet. Dit veroorsaak ‘n stinkende prop of ’n swamvlek in die keel, wat die roofvoël verhinder om te eet of te drink.

“Die reuk lok boonop vlieë wat eiers rondom die bek en oë lê. Hierdie eiers kan binne ure in wurms ontwikkel, wat die uil lewend begin opeet.”

Toe Vaughn haar kry, was die uil se oë reeds toe geswel en vol slym. Sy was uitgeteer en ernstig gedehidreer.

“Toe ons met die skoonmaak begin, het ons wurms diep in die keel en neusgate aangetref. Gelukkig kon ons darem die oë en bek skoonmaak,” vertel Vaughn.

Die uil is Donderdag na die South African Wildlife Rehabilitation Centre oorgeplaas.

Hierna is die uil na Monica van Aswegen geneem, wat haar versorg en noodsaaklike inspuitings gegee het. Vir die eerste paar dae moes sy via ‘n buis tot in die maag gevoer word. Sy is dieselfde aand op medikasie geplaas om die wurms dood te maak, en kry steeds daagliks antibiotika.

Die uil is intussen na die South African Wildlife Rehabilitation Centre oorgeplaas vir intensiewe behandeling en rehabilitasie.

Sodra sy ten volle herstel en sterk genoeg is, sal sy weer in die natuurskoon van Oranjeville vrygelaat word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button