VEREENIGING – Die Eureka Skool vir kinders met erge verstandelike en liggaamlike gestremdhede het soos omtrent elke ander skool in die land, ‘n voedingskema.
Die leerders wat vir die voedingskema kwalifiseer eet gedurende die kwartaal saam met die koshuishuiskinders.
Maar, wat van die vakansies? Die skool se beheerliggaam het verlede jaar al begin om kospakkies gedurende die vakansies na die spesifieke kinders se huise te stuur.
Nog steeds het van die kinders baie maer teruggekom skool toe in Januarie.
Dis hartverskeurend. Baie van die kinders se ouers leef self net op SASSA en daar is tye wanneer daar geen kos in die huis is nie.
Moeilik genoeg vir enige een om te verstaan hoekom daar nie kos is nie, maar wat van ‘n verstandelik gestremde kind?
Sedertdien word daar elke maand kospakke huis toe gestuur. In April was dit 40 gesinne, dis nou al 48 gesinne.
“Ons weet hoeveel mense is in elke gesin en probeer voorsiening maak vir almal, maar dis uiters moeilik. Van die skool se kant af kan daar net R5 000 per maand begroot word vir die voedingskema en ‘n pak met die minimum van alles in kos ons oor die R300,” vertel Endri Coertse wat aan die beheer van die projek staan.
Die pakke wat by elke huis afgelaai word, bestaan nie net uit kos nie, maar ook badkamer benodighede, soos toiletpapier, tandepasta en seep.
“Gelukkig begroot die skool apart vir die doeke,” sê Endri. Baie van die leerders is so erg gestrem, dat hul doeke moet dra.
Vir hierdie jaar hoop hulle om nog twee keer aflewerings te kan doen. Die eerste op 28 November en dan in middel Desember.
Om dit te kan doen, benodig hul baie nie-bederfbare kos soos blikkies kos, mieliemeel, olie, soya, pasta, two minute noodles, mielierys, tamatie en uie blikke, alle bone en tee. Dan kort hul ook die tandepasta, seep, shampoo en toiletpapier.
“Ons wil graag vir die Desemberpakke darem iets lekkers ook insit. Ons gaan glas koffiebottels met lekkergoed volmaak en dit ook in die pakke sit. Dit is Kersfees. Almal verdien iets lekkers om te eet,” verduidelik sy.
Enige kosdonasies kan tot 5 Desember by Eurekaskool se hek afgelaai word. “Sê net dis vir die ‘feeding scheme.’” Hulle sal sorg dat dit by die regte plek uitkom.
Indien iemand van enige aanlyn aankope en aflewering gebruik wil maak, die adres is Kwaggastraat 2, Leeuwhof, Vereeniging.
Weereens is dit belangrik dat die afleweraar by die hek sal sê dis vir die ‘feeding scheme’.
Finansiële donasies kan direk in die skool se rekening inbetaal word. Die rekeningbesonderhede is: Naam: Eureka Skool Bank: ABSA Rekeningnommer: 1050520141 Verwysing: Feeding Scheme.
Endri sê: “Ons waardeer enige hulp hoe groot of klein ook al. As dit moet sal ons dit self gaan oplaai ook. In so ‘n geval kan hul my WhatsApp by 074 157 0318.”
