NewsNews

Jong storieverteller skryf twee eerste plekke los

Die appel val nie ver van die boom nie. Jong Adelie volg in haar skrywersma, Felicia Snyman-du Toit se voetspore.

VANDERBIJLPARK – Adelie du Toit geniet dit om stories te lees, veral avontuurverhale.

Sy het haar van kleinsaf in stories ingeleef en al is sy nou eers in graad ses aan die Laerskool D.F. Malherbe, skryf sy ook haar eie stories.

Hoe dan ook anders met haar ma wat ‘n skrywer is? Felicia Snyman-Du Toit skryf kinderboeke en liefdesverhale.

Onlangs het Adelie besluit om vir die Young Publisherskompetisie in te skryf. Haar ma het gedink dis ‘n goeie idee, maar vir haar gesê sy is op haar eie.

“Ek het elke oggend vroeg my storie getik met twee vingers, dan gaan hokkie speel en weer in die middag aangegaan,” vertel sy.

Dit was gedurende die skoolvakansie, so daar was darem nie skoolwerk om haar kreatiwiteit te beïnvloed nie.

Waar die meeste jong skrywers net vir ‘n storie in een taal sou kans sien, het Adelie besluit om een in Afrikaans en een in Engels in te skryf.

Adelie het beide stories in een week geskryf, waarna dit geringbind en ingestuur is. Groot was haar opwinding toe sy ‘n eerste plek vir die Afrikaanse afdeling behaal het met haar Ava en die Towerdiepte en ‘n eerste plek vir haar Engelse verhaal, Spellbound in Paris.

“Die idees kom vanself, dan skryf ek net,” beduie sy. Ava en die Towerdiepte se basiese idee het sy reeds in graad drie gekry en vir ‘n opstel gebruik.

“Ek het dit uitgebrei en meer in diepte vertel vir die kompetisie. Dit gaan oor ‘n meisie wat saam met haar klas see toe gaan. Dan beland sy onder in die see, waar sy tot haar verbasing agterkom sy kan praat en asemhaal.”

Natuurlik is beide stories avontuurverhale. Hier is ‘n kort uittreksel uit haar Afrikaanse wenverhaal, Ava en die Towerdiepte:

“Skielik word sy al hoe dieper onder toe getrek, na die bodem toe. Dit voel of iets haar gaan insuig. Sy probeer met haar laaste bietjie krag omswem, maar die water trek haar dieper ondertoe.

Sy kyk onder toe. Daar flits ‘n baie skerp lig. Sy druk haar oë toe met haar regterhand. Haar linkerhand gebruik sy om haar neus toe te hou, sodat sy nie nog water insluk nie.

Die lig skyn al hoe skerper, en Ava word al hoe vinniger gesuig. Ava probeer skree, maar natuurlik kan sy nie. Sy is onder die water.

Al wat uit haar mond uitkom is borrels, en bloep, blop, blep… en daar, word sy diep onder die water met ‘n spoed ingetrek!”

Welgedaan Adelie! Hoop ons gaan in die toekoms nog baie van jou stories lees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button