NewsNews

Sasolburg Veearts se unieke Woefkardoesprojek

By hierdie veearts praktyk word daar nie net na troeteldier omgesien nie.

SASOLBURG – Dr. Letitia Swarts en haar span by Sasolburg Veearts is bekend vir hul empatie en liefdevolle versorging van diere.

Min mense weet dat hul harte ook warm klop vir mense, veral mense in nood.

“Ons het gereeld hier rondom toemaak tyd, mense gekry wat ingekom het en gevra het vir komberse of kos. Veral die afgelope winter wat dit so koud was. Dan het ek maar altyd van die skoon hondekomberse gegee, maar die mense se nood het my gepla,” vertel Letitia.

Met haar kenmerkende optimisme en positiewe ingesteldheid het sy die Woefkardoesprojek tot stand gebring.

“Ons het ons mense gevra vir hul ondersteuning met klere en nie-bederfbare voedsel, en hulle het net begin gee,” glimlag sy.

Sy weet dis nie maklik om hulp te vra nie en het van die begin af besluit die projek moenie die hulpbehoewendes se menswaardigheid aantas nie.

Elkeen wat kom hulp vra word hier met dieselfde empatie, geduld en liefde hanteer.

“Ons het ‘n hele kamer wat soos ‘n winkel lyk. Wanneer iemand klere kom vra, vat ons hul agter toe en maak seker hul kry iets wat hul pas.”

Hulle pak nou ook al vooraf kospakkies en van hul gereelde mense weet nou al hul kan maar net vir ‘n kospakkie vra en dit sal gegee word.

“Ons probeer regtig om na elkeen te luister en spesifiek na hul behoeftes om te sien.”

Die Woefkardoesprojek voorsien nie blindelings nie, hulle probeer om ‘n vertrouensverhouding met elkeen wat by hul aanklop vir hulp te bou.

“Hierdie is nie ‘n massaprojek nie. Ek glo ons moet vir elkeen ‘n bietjie hoop kan gee, hul selfrespek bou en hul laat besef hulle is waardig,” sê sy.

Sy is dankbaar vir ander besighede wat ingespring het en begin help het. Ook vir die gemeenskap wat net aanhou gee.

“Ons maak regtig ‘n verskil. Al is dit net aan een persoon of gesin se lewe op ‘n slag. Dit is belangrik.”

Hul grootste behoefte bly nie-bederfbare kos, maar hul vra vir enige bruikbare produkte veral kinderklere, gordyne en komberse.

In die laaste week van November gaan hul ook die Woefkardoes Kersprojek loods waar hul seep, tandepasta, handdoeke ens. gaan insamel.

“Die mense kort alles wat elkeen van ons elke dag nodig het, en ons wil hul help,” beduie Letitia. Natuurlik is honde en -katkos ook welkom.

Vir meer inligting besoek gerus Sasolburg Veearts se Facebookblad of gaan lewer die goedere direk af by 1 Donkinstraat, Sasolburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button