Bedelaar verloor die stryd
Die tragedie bring ons terug na die kwelpunt: Paaie is gevaarlik en strenger wetstoepassing is nodig om sulke voorvalle by kruisings/verkeersligte te voorkom.
VANDERBIJLPARK – “My oom het lelik seer gekry, dit lyk of sy nek gebreek was en hy het nooit weer sy volle bewussyn herwin nie. Ons het van die begin getwyfel of hy okay gaan wees.”
Die oom waarvan Mandie Grobler praat is Jacques Pretorius, die bedelaar wat verlede Saterdagmiddag (8 November) in Barrageweg deur ‘n motoris raakgery is.
Hy het Woensdagmiddag die stryd verloor.
Pretorius (56) was die sowat afgelope twee jaar ‘n bekende gesig by die Louis Trichardt- en Barrageweg-kruising waar hy daagliks gebedel het.
Die tragiese voorval het minder as twee maande nadat Colleen Coleman (52) by die Vaal Mall-kruising in Barrageweg doodgery is, gebeur.
Pretorius is omstreeks 14:15 raakgery, waarna hy op die toneel behandel is voordat hy na die Sebokeng Hospitaal geneem en ‘n paar dae later gesterf het.
Hy het vroeer jare by Telkom gewerk, maar nadat hy afbetaal is, het hy sy geld as karwag verdien.
“Na Covid het alles verander. Hy was ‘n baie trotse mens, en wou sy eie potjie krap.
“Hy was ook nie aan dwelms verslaaf nie. Hy het elke dag self vir die plekkie betaal waar hy gewoon het, en iets geeet as daar geld oor was,” vertel Mandie.

