Local newsNewsNews

Oupa laat skatkis vol herinneringe agter

Die Vaaldriehoek neem met 'n swaar hart afskeid van Koos Krügel, 'n man wie se invloed diep spore in plaaslike liggaamsbou- en rugbykringe getrap het.

VANDERBIJLPARK – Hy was ‘n bekende figuur wat in talle aspekte van die gemeenskapslewe ‘n noemenswaardige rol gespeel het. “My pa was ’n vriendelike, behulpsame mens. Ons gaan hom so baie mis,” vertel Emil, een van wyle Oom Koos se drie seuns.

Oom Koos was ‘n Valie in murg en been. Hy is in 1939 in Vereeniging gebore, waar hy sy skoolloopbaan voltooi het. Sy professionele loopbaan het in 1959 by Ford in Vereeniging begin, waar hy sy ambag verrig het.

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was egter toe hy later ‘n onderwyspos by die destydse Hoër Tegniese Skool Vereeniging aanvaar het.

Dit was ook in die Vaal waar hy die liefde van sy lewe, Judy, ontmoet het. Die egpaar het in September hul 64ste huweliksherdenking gevier.

Oom Koos het ‘n passie vir liggaamsbou gekoester. Dit het daartoe gelei dat hy in die 1990’s sy eie gimnasium, Triangle Health Gymnasium, in Vanderbijlpark gehad het.

Koos Krugel in jonger jare as liggaamsbouer.

Hy was eweneens ‘n bekende en respekvolle figuur in plaaslike rugbykringe, waar hy selfs as afrigter by die destydse Vaaldriehoekse Curriebeker-rugbyspanne betrokke was.

“Hy het deur die jare baie mense se lewens geraak en het geen vyande gehad nie,” benadruk Emil.

Oom Koos se gesondheid het sowat twee maande gelede begin agteruitgaan. Ná ‘n klein rugoperasie het sy toestand ongelukkig verswak, en hy het die stryd op 23 Oktober verloor.

Hy sou op 26 November sy 86ste verjaardag gevier het.

Oom Koos laat ‘n skatkis van goeie herinneringe agter aan sy vrou Judy, sy seuns Pieter, Riaan en Emil, asook sy kleinkinders en agterkleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button