NewsNews

Chippie is ‘n aktrise van formaat

RUBRIEK - Honde kan soms meer dramaties wees as hul base, soos wat Chippie die naweek bewys het.

RUBRIEK – Die mense wat sê ‘n hond is ‘n mens se beste vriend en hulle is altyd bly om jou te sien… ek wonder of het hulle honde?

My honde laat my duidelik verstaan as ek laat is met hul kos. Nou die dag toe ek Antjie laat skeer het was sy so kwaad vir my, sy het met haar rug na my toe gelê.

Alle geval, ek is dankbaar dit is nie net my honde wat geite het nie. Saterdag by die Vaalpets se pretstap vir honde is vriende van my, Magda en Danny van Tonder met hul worshond Chip of soms Chippie, ook daar.

Ek weet sy kan goed toneel speel, want wanneer ek daar kom vertel sy my gereeld hoe ondervoed is sy en hoe sy nooit kos kry nie.

Gaan druk selfs haar neus in haar bakkie om te demonstreer. Die feit dat haar pels blink en sy effe rond in die boudjies is tel blykbaar glad nie.

Saterdag het sy dapper die lang pad aangedurf en was stertswaai beïndruk met haar bandana wat sy gekry het.

Dit was totdat een van Magda se voormalige leerlinge haar gewaar het. Magda het op haar dag Engels by Hoërskool Vanderbijlpark gegee en is altyd bly om een van haar oud leerders raak te loop.

So in die proses van oor en weer groet, trap Magda toe baie liggies en per ongeluk op Chippie se voorpoot. Die sit toe dadelik ‘n keelgat op. ‘n Mens sou sweer sy word vermoor.

Danny raap haar op en sy hou haar poot met ‘n patetiese gesiggie in die lug. Magda vra verskoning, maar Chippie is ontroosbaar.

Ek vryf die pootjie, maar sy kreun nie eens nie en poot makeer absoluut niks. Maar, nou ken ek ook vir Chippie.

“Sy gaan die situasie soveel as moontlik melk,” was my laaste groet aan hulle. Die volgende middag kom laai hulle ons op vir ‘n vertoning in Sasolburg.

“Jy sal nie glo wat Chip gedoen het nie,” val Magda weg. “Ek moes haar gister die heeltyd van die bank en die bed op- en aftel, want sy kan nie, haar poot is seer. Kort-kort het sy die voorpootjie in die lug gehad.”

Magda, wat natuurlik baie skuldig gevoel het, het dit maar gedoen.

Dit was totdat sy vir juffrou Chip gevang het waar sy self met die grootste gemak op die bank gespring het. Toe makeer die voorpoot niks. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Back to top button