Versigtig optimisties oor nuwe waterbestuur-entiteit in Emfuleni
Die spesiale entiteit om met die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se waterprobleme te help bied 'n flikker van hoop vir inwoners.
VANDERBIJLPARK – Adjunkminister David Mahlobo het die nuwe SPV amptelik verlede Vrydag bekendgestel. Die entiteit (SPV – Special Purpose Vehichle) is getig om met die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se waterprobleme te help.
Rand Water sal 75% en Emfuleni 25% van die entiteit besit wat verantwoordelik sal wees vir die bestuur van watervoorsiening, stormwater-afvoer en rioolverwydering in die streek.
Dit is beslis ‘n stap in die rigting van die herstel van betroubare water- en sanitasiedienste in die ELM.
Maar net soos baie inwoners, is die VF Plus versigtig optimisties na die bekendstelling.
“Hoewel die aankondiging ’n mate van politieke wil van Rand Water en die Gautengse provinsiale regering aandui, bevestig dit terselfdertyd die VF Plus se jarelange waarskuwing dat Emfuleni se infrastruktuur só verval het dat eksterne ingryping nie net wenslik nie, maar onafwendbaar geword het,” sê raadslid Gerda Senekal.
“Inwoners ly al vir jare onder aanhoudende rioolstortings, wateronderbrekings, padverval, omgewingskade aan die Vaalrivier en ’n algehele gebrek aan behoorlike bestuur.
“Die VF Plus, die gemeenskap en die media het hierdie probleme herhaaldelik uitgelig, maar sonder volhoubare optrede. Die afwesigheid van aanspreeklikheid het die krisis verdiep,” sê Senekal.
Sy het beklemtoon dat die SPV meetbare resultate moet lewer en nie bloot net ’n politieke aankondiging moet wees nie.
“Daar moet duidelike tydlyne, gereelde vorderingsverslae en deursigtige kommunikasie aan die publiek wees. Instandhoudings- en herstelwerk moet volhoubaar en strategies wees en nie opportunisties of verkiesingsgedrewe nie,” sluit sy af.
