VANDERBIJLPARK – Einde April het Johan Maritz ouder gewoonte sy wagte rondom spitstyd by hul verskillende poste gaan aflaai.
Hy was in Delfosboulevard toe hy skielik ‘n wit ding voor hom in die pad gewaar. Hy het eers gedink dis net ‘n papier, maar toe beweeg die bondel.
Johan het net daar gestop, die verkeer geblok en nader gestap. Voor hom het ‘n babahondjie vol gesmelte teer gelê. Sy was net vel en been.

Diere-mens wat hy is het hy die bondeltjie lewe dadelik opgetel, voor by sy baadjie toegevou en haar huis toe geneem. “Sy het teer oor haar een oortjie gehad, haar maag en haar rug,” vertel sy vrou, Christell.
Die twee het die hond Lillie gedoop en haar die volgende oggend veearts toe geneem. Die veearts het gereken die hond is maar ‘n paar weke oud.

Haar hare was te kort om dadelik iets aan die teer te doen, maar sy het solank medisyne gekry. Op daardie stadium het sy maar 1.5 kg geweeg.
“Vir die volgende paar weke het ons haar water met ‘n spuit ingegee en haar kos gevoer,” onthou Christell.
Die brakkie het begin gewig optel en ten spyte van die teer het haar mooi persoonlikheid begin deurkom.
Uiteindelik is hul weer veearts toe, waar al die teer afgeskeer is en die wonde op haar lyfie ordentlik behandel kon word.
Onder haar teerbesmeerde oor het ‘n abses ontwikkel, wat gedrein moes word.

Ses maande later en Lillie is ‘n avontuurlustige hond met ‘n glimlag vir almal.
Sy en haar mense-ouers gaan stap gereeld by die Emerald Casino se gronde. “Dis te oulik. Wanneer daar drawwers of ‘n motor van voor af kom, dan gaan sit Lillie doodstil en wag dat hul verbygaan,” lag Christell.
Lillie geniet dit om in die motor te ry en het tot haar eie veiligheidsgordel. Sy verstaan al ‘n hele paar bevele en wag geduldig totdat haar kos neergesit word.
Watter ras sy is, kan niemand met sekerheid sê nie. Dat sy aan die groot kant gaan word, dit kan almal sien.
Laas toe sy by die veearts was, het sy al 15 kg geweeg en as mens so vir haar groot pote kyk, behoort Lillie sy nog heelwat groter te word.
Sy dink natuurlik sy is ‘n baba en probeer nog op Christell se skoot pas. Verder is sy uitermatig nuuskierig en niks ontsnap haar waaksame oog nie.
Van haar eerste paar weke se hel op aarde het sy net ‘n letsel op haar oor oorgehou, verder is sy net ‘n plesier en haar ma se Lillie-blom.
