MEYERTON – Die eerste Mil-Vet Makietie dag om bewusmaking te skep dat daar hulp beskikbaar is vir manne en vroue wat verpligte militêre diens gedoen het, het uitstekend afgeloop.

Behalwe vir militêre veterane was daar ook verskeie motorfietsklubs teenwoordig.
Die dag se verrigtinge is aangebied by die Meyerton Sportklub. Behalwe vir verskeie stalletjies was daar ook vermaak vir oud en jonk, van kettie skiet tot by springkastele en ‘n potjiekoskompetisie.

Deur die loop van die dag het verskeie kunstenaars opgetree waaronder Anton Myburgh en sy alter ego Frikkie, Judith Kea en Ray Grobbelaar aka Ysterperd Tert Rock Duo, TNT Dansorkes, Carla, Ayrton en Gerrit Woest.
Daar is ook ‘n parade gehou onder bevelvoerder Genl Ian Fordred en Regiment-sersantmajoor AO Frank Frankenbur.

Van die trofees wat op die dag uitgedeel is, het ingesluit die grootste klub: The Restless, die kleinste klub: The Crew, ondersteunersklub Cmirron FS en beste gees klub: Leader of the Pack Vaal.
Alhoewel die dag heelwat pret en plesier ingesluit het, was die doelwit daaragter ernstig.
Nasionale President Silent Soldiers Broer Chris van Zyl en SAMVA se Peet Mulder het gereed gestaan om veterane met die nodige papierwerk te help om hul kosteloos op die databasis te laai om in aanmerking te kom vir die weermag veterane pensioen.

Tans is daar nog duisende oud soldate wat tydens die Bosoorlog verpligte militêre diens gedoen het, maar nie bewus is daarvan dat hul geregtig is op ‘n pensioen nie.
Vir meer inligting in die verband kontak gerus vir Peet Mulder by 083 358 1203.
