VANDERBIJLPARK – MooiVaal Media het onlangs sy jaareindfunksie gehou. Elke jaar bied ‘n ander afdeling dit aan en hierdie jaar was weer een vir die boeke.
Redaksie was aan beheer van sake en onse redakteur, Elsje Vermeulen, het dit met styl georganiseer.
Natuurlik met die hulp van die adminspan. Niemand sal iets by MooiVaal gedoen kry sonder die administratiewespan nie.
Hul kreatiwiteit het weer oortyd gewerk en die saal by Old Vaaltonians was feestelik getooi in blou en wit balonne, opgestopte baba denims en skitterblink tafel-‘runners’.

Aangesien ‘n mens nie jou eie drank mag invat nie, is daar bietjie kop gekrap oor die verwelkomingsdrankies.
Elsje het op Apple-en Grapetiser in mooi glase besluit, en die admin het dit met ‘n stukkie gegeurde spookasem versier.

Die drag vir die dag was denim, wit en diamante. Die manne het die denim en wit hemde ding gedoen, maar dis die dames wat geskitter het met al hul mooi bling-bling.
Die Vaalweekblad se eie Christiaan Cloete was die enigste onder die manne wat dapper genoeg was om met ‘n prinseskroon op te daag.

Daarvoor is hy dan ook beloon met een van die vele pryse geborg deur Emerald Resort & Casino.
Plaaslike sangeres Melissa van The Chorus Project het die musiek verskaf en daar is sommer vroeg al begin dans, ‘n ‘modeparade’ gehou en sommer net lekker gekuier en gelag.
Alle sperdatums was vir ‘n tydjie vergete. The Social Apron se spitbraai was voortreflik en niemand is honger huis toe nie.
‘n Groot verrassing was dat afgetrede MooiVaal bestuurder, Thys Foord (Baas Thys) kom saam kuier het.

Ons bedank graag die Old Vaaltoniansklub vir die gebruik van hul spoggerige saal, asook die Emerald Resort & Casino, Vaal Mall en River Square vir die pret pryse.
Die dag was ‘n broodnodige ontspan voor die allerlaaste besige skof totdat die kantore sluit in Desember.

