Meerderheid munisipaliteite in ’n toestand van ineenstorting
Hierdie diensleweringskrisis is die grootste stremming op ekonomiese groei - ’n land kan nie beleggings lok of werk skep terwyl sy infrastruktuur verval nie.

“Suid-Afrika benodig noodsaaklike ekonomiese en staatsherstel en dié ommekeer moet begin by die 2026-plaaslike regeringsverkiesing.”
Jaco Mulder, VF Plus-komiteevoorsitter van die portefeuljekomitee vir omgewingsake het dit bekelmtoon dat “die land eenvoudig nie ekonomies groei terwyl die meerderheid munisipaliteite in ’n toestand van ineenstorting verkeer nie.”
Die party glo transformasie van ’n welsynstaat na ’n werklike welvaartstaat, vereis dat plaaslike regering, die mees sigbare vorm van diens aan die publiek, eerste herstel word.
Die jongste verslae van die ouditeur-generaal (OG) toon dat slegs sowat 20% van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika skoon oudits ontvang, 64 is reeds as wanfunksioneel verklaar en meer as die helfte oortree wetlike vereistes sonder enige gevolgbestuur.
Water, elektrisiteit, vullisverwydering, paaie en infrastruktuur, die basiese grondslag van ekonomiese aktiwiteit, word in talle dorpe nie meer volhoubaar gelewer nie.
Gevolglik sluit of migreer ondernemings en gemeenskappe word toenemend selfversorgend in reaksie op staatsverval.
“Die herstel van plaaslike regering is daarom die eerste voorwaarde vir werklike ekonomiese verbetering,” bekelmtoon Mulder.
Hy voer verder aan dat Suid-Afrika moet wegbeweeg van sogenaamde breë basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB), ’n stelsel wat sy oorspronklike oogmerk verloor het en dikwels korrupsie, tendervergrype en politieke patronaatskap bevorder.
“BBSEB het ’n struikelblok vir produktiwiteit en beleggingsvertroue geword en moet geleidelik vervang word met ’n oop, nie-rasgegronde vryemark-ekonomiese model.
“Hierdie model moet gefokus wees op vaardigheidsoordrag, meriete, mededinging en werklike ekonomiese deelname,” sluit Mulder af.
