NewsNews

Veelsydige Cya ontgin al haar talente op een slag

Cya van Helden woeker met haar talente en Vaalweekblad het met haar gaan gesels.

VANDERBIJLPARK – Sy is een van Laerskool Emfulenipark se blinkste sterre. Dié dat die skool Cya van Helden by hul onlangse prysuitdeling met ‘n Veelsydigheid diploma beloon het.

Op die oog af lyk sy stil en rustig, selfs bietjie aan die skaam kant, maar aan haar belangstellings en talente is daar nie ‘n einde nie.

Cya tree gereeld saam met Franz Geldenhuys by skole en kerke op. Foto verskaf/Maureen van Helden

Akademies land sy altyd êrens tussen die top slimkoppe in haar graad, maar dan is daar nog haar sport, kultuur en leierskapsvaardighede ook. Sy was hoeka die jaar onderhoofmeisie van Emfulenipark.

By die skool strek haar kultuur betrokkenheid van koorlid tot by deelname (met uitsonderlike punte) aan die kunstefees en redenaarskompetisies. Laasgenoemde is nou nie haar gunsteling tydverdryf nie, maar sy kan as sy moet.

Vir Emfulenipark het sy vanaf graad vier netbal gespeel en aan hoogspring deelgeneem. Dis haar skoolaktiwiteite. Buite skoolure het sy ook baie op haar kerfstok.

Daar is haar balletklasse by On Pointe dansstudio. “Ek dink ons begin volgende jaar met intermediêr,” beduie sy. Sy neem ook klavierlesse en hoop om volgende jaar haar Graad 2-eksamen af te lê.

Cya se grootste passie en liefde lê egter by die Voortrekkers. Sy is nou al vir jare ‘n trotse lid van die Orion Kommando en was hierdie jaar jeugleier. Sy het ook die hoogste toekenning vir ‘n laerskoollid verwerf deur Voorslag Goud agter haar naam te skryf.

Cya saam met haar drie talentvolle broers, Maarten, Daniël en Johannes. Foto verskaf/Maureen van Helden

Dis die een ding waaroor sy sekerheid het; sy wil vir solank as moontlik ‘n Voortrekker wees. “Ek geniet die kampe die meeste,” vertel sy met ‘n ondeunde lag in die oë.

In haar vrye tyd sing sy graag en tree saam met Franz Geldenhuys op. Dan is sy ook lief vir lees en sal enige iets van Harry Potter tot by Jane Austin nadertrek.

Gedink aan wat sy na skool wil doen, het sy nog nie juis nie. Een ding weet sy verseker, sy gaan vir die volgende vyf jaar ‘n trotse leerder van die Hoërskool Driehoek wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button