NewsNews

Eet, slaap, gym… herhaal

Baie sterkte en voorspoed aan Cllinton Samons vir die groot kompetisie in Desember.

VANDERBIJLPARK – In die Samons-huishouding heers daar groot opgewondenheid. Clinton, wat volgende maand 29 jaar oud word, neem op 6 Desember aan sy eerste professionele liggaamsbou kompetisie deel.

Die IBFF Worldwide Pro Show vind by die Midrand Konferensiesentrum plaas. Iets waaroor Clinton baie dankbaar is.

“Hierdie is ‘n duur sport en as mens nog oorsee moet gaan deelneem, dan raak dit bykans onmoontlik, veral as jy nie genoegsame borge het nie.”

Clinton Samons met sy laaste amateur titel voordat hy sy Pro Card ontvang het. Fotos: Micheal Maciej Photography

Clinton vertel dat hy in sy jonger dae baie selfbewus was en minderwaardig gevoel het. In 2021 het sy vriende hom uiteindelik oortuig om vir ‘n kompetisie te staan. “Ek het van jongs af gesond geëet en glo nog altyd daaraan om fiks te wees,” vertel hy.

Hy het vir ‘n hele paar kompetisies gestaan daardie jaar. Sy vrou, Charnay het gehoor dat daar ‘n IBFF-kompetisie by die Emerald Resort & Casino gaan plaasvind. Dit was slegs vir uitgenooides, maar sy het die kans gevat en die organiseerder gebel.

Nadat hy Clinton se foto’s gesien het, het Clinton ook ‘n uitnodiging gekry om in die Classic Physique te staan. Nooit het hy besef hoe hard daardie week vir hom sou wees nie.

Sy pa, Jacques is die Dinsdag oorlede, die roudiens was Saterdag en die Sondag het hy aan die kompetisie gaan deelneem en ‘n eerste plek behaal. “Daarna wou ek nie meer staan nie. Ek het vir vier jaar nie liggaamsbou gedoen nie,” beduie hy.

Charnay Samons nadat sy haar eerste titel in September verower het.

Aan die begin van die jaar het Charnay hom gemotiveer om weer te begin. Hy het intussen as ‘n persoonlike afrigter gekwalifiseer en het besluit om homself af te rig, met goeie gevolge.

Sy onstuitbare deursettingsvermoë en selfdissipline het gemaak dat hy al die kompetisies waarin hy hierdie jaar as amateur gestaan het, gewen het. Dis hoe hy dan ook sy Pro Card verdien het.

“As professionele liggaamsbouer mag ek nie meer saam met die amateurs deelneem nie,” verduidelik hy. In September het hy en Charnay juis na ‘n amateur liggaamsbou-kompetisie gaan kyk. Daarna het sy gesê, sy wil dit ook probeer.

“Sy was binne 17 dae reg om te staan. Dit vat ons manne gewoonlik drie tot vier maande om kompetisie gereed te wees,” skud hy kop.

Charnay het op 26 September vir die eerste keer in die Development-afdeling gestaan en eerste plek behaal en ‘n derde plek in die bikini-afdeling.

Dis duidelik die egpaar is super trots op mekaar en is mekaar se grootste ondersteuners. “My wenne is haar wenne,” verklaar Clinton.

As persoonlike afrigter groei sy besigheid stadig maar seker. Hoeveel keer hy as pro sal kan staan is hy nie seker nie, juis omdat dit so duur is.

Nie dat hy nou daaroor bekommerd is nie. Al sy aandag is op die groot kompetisie in Desember. Van een ding is hy wel seker: “Ek gaan nie om te verloor nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button