Local newsNewsNews

RUBRIEK: Gewigtige storie van die verlore ‘s’

Soms is dit die onvoorspelebare oomblikke wat die lewe interessant en lekker maak.

Ek meen, as mens nou daaroor dink, tande is basies die A-span van jou liggaam se toerusting.

Eerstens, daai primêre funksie: byt en kou. Veral aan ‘n lekker stukkie steak.

En ‘n mooi glimlag?  Natuurlik! Dis die cherry on top van jou gesig.

Maar my vriende, my onlangse A-Ha-oomblik is dit: tande help met uitspraak!

Onlangs stop ek vinnig by die Driehoek Diere Hospitaal in Vanderbijlpark. Dis nie vir my nie, dis vir een van my katte se medikasie wat ek moet betaal.

Ek dink: “Lekker stil, ek is in en uit!” Nie heeltemal nie. Daar is ‘n man voor my by die toonbank.

Hy gesels, hy’s gemoedelik, hy’s op sy tyd. Ek wag geduldig.

Toe sien hy hom: die groot skaal reg voor die toonbank. “Kan ek my hierop weeg?” vra hy, oulik.

“Ja” antwoord die dame agter die toonbank. Dan sien hy my onskuldige gesiggie. Hy bedink homself.

“Nee, liewer nie, almal gaan sien wat ek weeg. Ek weeg seker 200kg,” sê hy. Die dame, met haar uitstekende kliëntediens, belowe: “Ons sal nie kyk nie.”

Ek? Ek is eerlik, dalk te eerlik. Ek lag en antwoord: “Ek gaan beslis kyk.” (Want ek ken myself!)

Ek probeer dan vinnig die situasie red: “Jy weeg nie so baie nie, man. Jy’s seker so 110kg. As jy jouself weeg, sal ek ook!”

Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Dit trek na 120kg. Hy voel beter, en ek voel soos ‘n gewig-waarsêer wat amper reg geraai het. Ons almal is gelukkig.

Toe’s dit my beurt. Ek klim op. En nee, daai inligting deel ek nie. Dit bly ‘n geheim tussen my en die Diere Hospitaal se skaal.

Dit is toe dat my nuwe, dog eienaardige, vriend weer praat. En hier kom die openbaring van die belangrikheid van tande in.

Hy sê: “Ek is so groot ek loop eerder nie voor spiele (nie spieëls nie) verby nie.”

Maar… weens ‘n duidelike tand-vakature in sy mond, was die “s” vooraan totaal en al verlore. Wat ons gehoor het, was ‘n perfekte, dog gevaarlike, uitspraak van die laaste vyf letters.

Ek dog eers my ore hoor verkeerd, maar toe ek die dame agter die toonbank se gesig sien toe weet ek my gehoor is nog 100%.

Ons het albei ons bes gedoen om kalm te bly terwyl hy uitgestap het. Maar die sekonde toe die deur agter hom toeslaan, het ons uitgebars in ‘n histeriese laggie-orkaan.

Dankie ou vriend, wie jy ook al is. Jy het nie net jou gewig met ons gedeel nie, maar jy het ook ‘n onvergeetlike les in fonetiek en tandheelkunde gegee. Jy het ons dag gemaak!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button