SASOLBURG – Yolandi en Wimpie van Niekerk het in 2019 vir die eerste keer ‘n Kersliedere by Kersligaand aangebied. Dit was nadat hul in 2018 na die Kersliggie-huis in Uniestraat gaan kyk het.
“Dit was vir my baie mooi, maar ek het gevoel daar kort iets. Musiek, maar nie die kommersiële musiek wat oral gespeel word nie, die tradisionele Kersgesange waarmee ons grootgeword het,” vertel Yolandi.
Sy het oom Koos Strydom, eienaar van die huis in Uniestraat genader en so het ‘n nuwe tradisie ontstaan. Die Covid-pandemie het hul wel vir ‘n jaar of wat gekortwiek, maar nie gestuit nie.
“My Ouma het kom kuier, sy was toe al in die 90, en ons het haar saamgeneem na die Kerssangaand toe. Sy het dit soveel geniet dat ek daar en dan besluit het om dit die volgende jaar na die tehuise vir bejaardes in Sasolburg te neem.”
Die projek het met die tyd uitgebrei en hierdie jaar het hul vier Kersliedjie aande wat hul gratis aanbied oor drie dae. Die liedjies se woorde word op ‘n skerm gegooi sodat almal mooi kan sien en lekker kan saamsing, van Herders op die ope velde tot by Stille Nag.
“Die liedjies is almal tot eer van die Here. Ons wil die mense herinner waaroor Kersfees nou eintlik gaan,” sê Yolandi wat elke jaar in Oktober al aan die besondere aande begin beplan.
Hierdie jaar se Kersliedere by Kerslig skop af op 4 Desember by die Van Riebeecksentrum, Finleystraat 1 om 18:00.
Die volgende aand is hul by Ons Gryse Jeug om 18:00 en dan op 6 Desember is daar ‘n oggendprogram by Môredou Tehuis vir Bejaardes om 10:00 en die aand is hul by Uniestraat 30 om 18:30.
Almal is welkom om enige van die geleenthede by te woon. Toegang is gratis, maar skenkings van nie-bederfbare voedsel en badkamerbenodighede is altyd welkom.
