VEREENIGING – Koos Nell het in die 1960’s vir Vereeniging Rugbyklub as skrumskakel uitgedraf. Onder sy spanmaats was hy bekend as Mackie.
Volgens sy dogter Rita van der Merwe, het hulle gesê hy is windgat en dink hy is die Mackie van die plekkie.

Koos is in 2022 oorlede en sy kinders het besluit om sy rugbyklubbaadjie aan die Vereeniging Rugbyklub te skenk.
Die baadjie is nog in uitstekende kondisie en die klub is opgewonde om dit as deel van hul versameling memorabilia te voeg.
“My pa was uit en uit ‘n rugbyman. Rugby was sy alles. Jy mag nie eens met hom gepraat het as hy ‘n wedstryd gekyk het nie,” vertel Rita.

Naas die Springbokke was hy ‘n groot Stormers en WP ondersteuner. Hy het altyd vertel dat hul Vereenigingspan in die 60’s van die bestes ooit was en die liga gewen het.
Die amptelike oorhandiging van die baadjie vind op 13 Desember by die Vereeniging Rugbyklub plaas.
