VANDERBIJLPARK – Elzé Rose se sangloopbaan strek al oor 21 jaar. Country musiek is haar gunsteling genre en sy lief dit om ou treffers te sing, maar skryf ook haar eie liedjies.
Sy was gekroon as Country Sangeres van die Jaar in 2004, 2006, 2008, 2009, 2010, 2015 en 2019. Deur die jare het sy agt albums die lig laat sien, maar nou se dae loop haar musiek soos stroop op verskeie aanlyn platforms.

“My seun help my baie met die sosiale media. Ek het nooit eens besef mens kan so geld verdien nie,” lag sy. Hy was ook die een wat haar aangemoedig het om meer van haar eie liedjies te begin skryf.
“Hy het belowe hy sal help betaal om die liedjies op te neem, wel dis al wat ek nodig gehad het om weer vir ‘n slag te gaan sit en te begin skryf.”
Haar mees onlangse enkelsnit is Genade Trein. “Dis ‘n lied wat Oom Nico Moolman nog geskryf het toe een van sy vriendinne op sterwe was. Ek het die wysie gedoen. Dit was al in 2004.”
Verlede jaar het sy die lied weer afgestof en ‘n nuwe baadjie aangetrek. “Ek wou nog Oom Nico daarmee verras, maar toe is hy oorlede.”
Elzé sê sy het deur die jare baie geleer by al Suid-Afrika se Country legendes van Barbara Ray en Tommy Dell tot by Clive Bruce en Lance James.
“Ek was en is bevoorreg om saam met hulle te kan werk, by hulle te kan leer en het verskeie duette saam met hulle al opgeneem. Dis vir my lekker as ek ‘n kompliment van een van hulle kry oor my sang,” erken sy.
Sy en haar gesin woon op ‘n kleinhoewe in die Lindequesdrifomgewing waar hulle diere van alle grotes en soorte aanhou. Daar is die hoenders wat vrylik loop en skrop, alhoewel hul eiers geëet mag word mag hulle nie geslag word nie.
Dan is daar die eende wat soms met die hoenders baklei, ganse, ‘n bokkie, perde en natuurlik agt miniatuur Doberman pinschers. Om nie van die mak hasie te vergeet wat met net drie pote gebore is nie.
Al die diere is maar altyd doenig in en om die huis, waar Elzé aan haar musiek werk. “Dis ongelooflik, toe ek eers weer begin skryf, het die woorde net gevloei. Daar is nou al 15 liedjies klaar en dit in net vyf maande. Nou spaar ons net eers bietjie vir die opnames.”
Intussen kan haar musiek geluister word op al die groot kanale, insluitend YouTube en Spotify.
