NewsNews

Kulkunstenaar leef vir sy rugby

Hoërskool Dr. Malan se voormalige hoofseun geniet sy visvang en ander sport, maar hy leef vir rugby.

MEYERTON – Luka Pretorius kon skaars loop toe het hy al ‘n rugbybal onder die arm. Hy is pas klaar met sy matriekeksamen en is hard aan’t oefen om sy laaste ligamentbeserings af te skud voor 5 Desember.

Luka Pretorius is na die Craven- en Akademieweek gekies om SA in Ierland te gaan verteenwoordig.

Dan moet hy reg wees, want hy is na die Craven- en Akademieweek gekies vir die span wat Suid-Afrika in Ierland gaan verteenwoordig van die 5de tot die 13de Desember.

Sy groot droom is om ‘n professionele rugbyspeler te word en mens weet nooit, dalk sien ‘n klub hom in Ierland raak…

Luka het darem ‘n plan-B ook. Volgende jaar gaan hy aptekerswese by die NWU in Potchefstroom swot en vir die universiteit rugby speel.

“Ek wou nog altyd ‘n apteker word. My broer, PC, is ‘n apteker en my tannie het ook ‘n apteek. Ek het al baie daar uitgehelp en dit geniet,” gesels hy oor die foon.

Luka en sy meisie, Caitlin Kleynhans.

Hy is nie tans by die huis nie. Hy en ‘n paar van sy vriende vang vis om die eksamens finaal uit hul gestel te kry. Visvang is ook een van Luka se groot passies en wanneer hy die kans kry, dan is hy langs die water.

Stilsit is nie heeltemal vir hom nie. Hy is onlangs vir die vierde jaar in ‘n ry aangewys as die Hoërskool Dr. Malan se Sportman van die Jaar. Nie net vir rugby nie, maar ook vir driesprong en verspring, krieket en gholf.

Verlede jaar het hy vir driesprong vir o.a Atletiek SA se nasionale kampioenskappe gekwalifiseer, maar hy kon nie gaan nie… daar was ‘n rugbytoer op hande.

Vir ontspanning sal hy tennis of tafeltennis speel en veerpyltjies. Dan is Luka ook ‘n kulkunstenaar.

Luka en sy ouboet, PC is albei kulkunstenaars

“My pa is ‘n kulkunstenaar en ek en my broer het van kleins af by hom geleer. Ek kan groter toertjies ook doen soos om ‘n eend te laat verskyn en verdwyn,” lag hy en gee geen geheime weg nie.

Hy en sy broer doen baie maal vertonings saam, maar hy gaan vermaak ook mense met die talent van hom op sy eie. Hy het selfs al daarmee ‘n talentaand gewen.

“Daardie jaar het ek ook ‘n toneelstuk opgevoer. Dis ‘n stuk wat my pa geskryf het toe hy jonk was en hy het dit vir ons by ‘n kampvuurkonsert opgevoer,” vertel Luka trots.

Luka (regs) saam met een van sy spanmaats en vriende, Dewald Erasmus

Dis ook die enigste keer wat hy sy hand aan drama gewaag het, al het hy goed gevaar. Hy sal enige iets doen, solank dit nie bots met sy rugby nie, want hy lewe vir die tye wat hy die nommer 10, of partykeer die nommer 15, trui oor sy kop kan trek en op die veld kan draf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button