As jy eerste op die ongelukstoneel is
Of dit nou gering of ernstig is, 'n ongeluk is 'n angwekkende en stresvolle ervaring. As jy voorberei is sal jy weet hoe om die situasie te hanteer.

Gedurende die Desembervakansie sal die paaie weer besig wees, en ongelukkig beteken dit ‘n hoër risiko vir ongelukke.
Hou hierdie wenke in gedagte:
Stop Veilig
Skakel jou voertuig se gevaarligte aan en stop op ‘n veilige plek. Parkeer verkieslik aan die kant van die pad en voor die ongeluk om jou voertuig buite gevaar te hou en die pad oop te los vir noodvoertuie.
Op ‘n blinde bult of draai, kan parkering agter die ongeluk in ‘n “afweer”-posisie met gevaarligte aan, help om verdere botsings te voorkom.
As dit reeds donker is moet jy jou voertuig se hoofligte aanhou om die toneel te verlig en ander bestuurders te waarsku.
Evalueer die situasie
In ernstige ongelukke kan rook of stoom uit die voertuie sien kom. Anders as in die flieks, is ontploffings skaars tensy daar vlamme is. As daar vlamme is, sal water nie help nie – gebruik sand of ‘n brandblusser.
Moenie enigiemand wat beseer is, verskuif nie, tensy dit nodig is, byvoorbeeld as die voertuig brand. As jy hulle moet skuif, plaas hulle op gelyke grond en hou hulle stil.
Maak ‘n noodoproep
Skakel 112, die noodnommer vir alle selfone in Suid-Afrika. Dit verbind jou met die polisie, ambulans en brandweer, en werk via satelliet, selfs in gebiede sonder ‘n selfoonsein.
Alternatiewelik, kontak die polisie by 10111, en die ambulans en brandweer by 10177. Bel die polisie na ‘n ongeluk as iemand ernstig beseer of dood is, as alkohol of dwelms betrokke is, of om verkeersvloei te bestuur. Verskaf jou naam, nommer, ligging, wat gebeur het, en hoeveel voertuie en mense betrokke is.
Deel besonderhede oor beserings sodat owerhede die regte hulpbronne kan stuur, byvoorbeeld ambulanse, patoloë, en die hidrouliese reddingsapparaat (“jaws of life”).
As die ongeluk verlate plaasvind en jy nie ‘n ligging-pin kan stuur nie, verwys na die roetemerkborde. Hierdie blou-en-wit borde is op alle nasionale paaie (N1, N2, N3, ens.) in Suid-Afrika, 200 meter uitmekaar, en toon die roetenaam, seksie, kilometerposisie, en rigting van reis.
Terwyl jy vir nooddienste wag
Kalmeer en verseker diegene wat betrokke is dat hulp op pad is. Probeer om die beseerdes aan te moedig om stil te sit/lê, selfs al wil hulle die teenoorgestelde doen. As iemand bloei, oefen druk toe op die wond met enige beskikbare lap, en moenie dit oplig om te kyk of die bloeding gestop het nie.
As daar brandstof op die pad is, bedek dit met sand. Ontkoppel ook die voertuig se battery sodat geen vonke kan ontstaan nie.
Versamel soveel inligting as moontlik. Probeer om name en mediese besonderhede te kry, en vra waar hulle die meeste pyn ervaar. Vra hoeveel mense in die voertuig gereis het. Enigiemand wat nie ‘n veiligheidsgordel gedra het nie, kon uit die voertuig geslinger gewees het, so as iemand sê daar is meer mense, soek na hulle.
Observeer
Let op na wie baie stil is, of besig is om flou te word, ens. Hoe meer jy observeer, hoe meer waardevolle inligting kan jy aan die nooddienspersoneel oordra.
Ander belangrike inligting
As jy betrokke is en in ‘n posisie om dit te doen, ruil inligting met die ander bestuurder(s) uit en dokumenteer die toneel met foto’s – voertuie, nommerplate, lisensieskyfies, bestuurderslisensies, straatname, eiendomskade, padtekens en -toestande.
Soek na kringtelevisiekameras (CCTV) wat die ongeluk moontlik opgeneem het.
Moenie kos of drank aan erg beseerde mense aanbied nie, nie eens water nie, aangesien hulle dalk direk van die toneel na ‘n operasie toe gaan.
As jy in ‘n ongeluk betrokke is, ry net weg as die polisie toestemming gee. As sleepdienste benodig word, bel jou versekeraar se sleepdiens of vra vir ‘n kwotasie voordat jou voertuig verskuif word.
Noodpakket
Hou ‘n eerstehulp tas in jou motor. Dit moet ook rubberhandskoene, water, ‘n flitslig, noodnommers, en gereedskap soos ‘n veiligheidsgordelsnyer insluit. Jy kan ook ‘n klein brandblusser en ‘n weerkaatsende baadjie insluit.
Maak seker jou voertuig se waarskuwingsdriehoek is in plek.
Stoor jou mediese fonds-inligting op ‘n plakker op jou voorruit of op jou foon. Op die meeste fone bring die hou van die kragknoppie die opsies “Skakel Af”, “Herbegin”, “Noodoproep” en “Mediese Inligting” op. Maak seker jou noodkontakte en mediese inligting is gestoor.
