MEYERTON – Dis nie aldag dat mens ‘n Duitse herdershond agter op ‘n motorfiets sien nie. Die dat Wolfi en sy eienaar, Roché Vermaak, soveel aandag getrek het by die Mil-Vet Makietie wat hier gehou is.
Amptelik is Wolfi die ambassadeur van Animals in War. Alhoewel hy maar net oor die twee jaar oud is, is hy hoogs opgelei (DH4) en het al 41 militêre gedenkdienste bygewoon.

Sy werk is om mense bewus te maak van die rol wat diere in oorloë het. Animals in War is gestig nadat veterane besluit het dat al die diere, van die honde tot die posduiwe, wat in die afgelope eeu se groot oorloë ‘n rol gespeel het, onthou en herdenk moes word.
Daar is derhalwe begin om ‘n gedenktuin by die Voortrekkermonument te bou wat amptelik in Maart ingewy is.
Die muur het reeds die name van perde, honde, posduiwe en ander diere op wat diens gedoen het in die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog, die Bosoorlog en die oorlog in Rhodesië. Die gedeelte wat die AngloBoereoorlog verteenwoordig moet nog voltooi word.

Volgens Roché is die diere in die oorloë as deel van die weermag beskou en dus as soldate. “Waar mense altyd rondom 11 November die rooi poppie dra ter herinnering aan gevalle soldate, het die diere die pers poppie as simbool,” vertel hy.
Hy moes baie navorsing doen en het ‘n wavrag stories en staaltjies gekry. So is daar twee katte se name op die muur, asook die naam van ‘n rot wat gehelp het om landmyne uit te snuffel.
Dan was daar ‘n Springbok wat as ‘n eenheid se gelukbringer gedien het en Jackie die bobbejaan wat gehelp het om ammunisie aan te dra. Baie van die diere het die PDSA Dicken-medalje ontvang vir hul dapperheid en diens.
Roché sê duiwe het die meeste medaljes gekry vir hul diens in die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog. “Hulle het boodskappe oor grense gekry en baie het gesterf, maar ander het gesorg dat hulle weer by hul eenhede kom, al was dit met ‘n koeëlgat deur ‘n vlerk.”

Tydens Roché en Wolfi se besoek by die Mil-Vet Makietie is ‘n skild wat ‘n Duitse herdershond uitbeeld aan hul oorhandig vir die gedenktuin in Pretoria.
Enige een wat donasies wil gee vir die instandhouding en voltooiing van die gedenkmuur, kan dit in die Animals in War se bankrekening inbetaal. Bank Tyme Bank. Rekeningnommer: 51107492456.
