NewsNews

Anker Kersmark sukses ten spyte van eendeweer

Anker se 12de Kersmark was weer een vir die boeke. Hierdie jaar was daar ook 'n braaikompetisie gehou, maar wie was die wenner? Lees meer

VANDERBIJLPARK – Die Ankerskool se Kersmark vind elke jaar rondom einde November plaas. Dis asof dit die feesseisoen aankondig.

Die mark strek oor twee dae en elke jaar is daar iets anders wat die verbeelding aangryp. Hierdie jaar was dit so hittete of die 12de mark moes uitgestel word.

Hayley Kiedsom het haar gesiggie laat verf, maar wou nie glimlag vir die kamera nie.

Die ongekende baie reën in November het die organiseerders laat kopkrap. Sal hulle uitstel of sal hulle nie?

Maar, ‘n boer maak ‘n plan en binne twee dae het hulle ‘n tent gehuur, die stalletjiehouers in klaskamers en die wat kon onder gazebo’s gekry en besluit die mark gaan aan.

Vrydag het die weer glad nie saamgespeel nie. Reeds by die hek het die hekwagte gewaarsku dat “tannie so na as moontlik aan die kant moet stop.” In die middel van die rugbyveld het groot plasse water geblink.

Jaco Geyer is die Braaimeester vir 2025.

Met die gras wat sloesh-sloesh skoene wou insuig en die reën koud op die rug, was dit moeilik om al die ware op uitstalling te waardeer.

Dit het egter nie die mense afgesit nie en Annél Willemse, wat haar tuisgemaakte juweliersware in ‘n klaskamer kon uitstel, het gesê dit het besonder goed gegaan met verkope.

‘n Kragonderbreking in die area Vrydagoggend het dit ook moeiliker gemaak en mens kon van ver al die kragopwekker hoor dreun.

Gys Oosthuizen neem ‘n vinnige blaaskans in ‘n tuinswaai.

Van die dorp se laerskoolhoofde en adjunkhoofde is tussen die baie mense op die stoepe gewaar.

Laerskool D.F. Malherbe se hoof, Willem Botha, het sy sambreel vergeet en was behoorlik natgereën. Ten spyte daarvan het hy steeds breed geglimlag en seker gemaak hy sien alles wat te siene is.

Saterdag was die weer heelwat warmer en droeër. Die sypaadjie reg rondom die skool was gepak met motors, die meeste met modder, maar niemand het omgegee nie.

Wikus Strydom se sosaties en braaibroodjies het hom ‘n tweede plek besorg

Binne het ‘n feestelike atmosfeer geheers. Die manne het mekaar die stryd aangesê in ‘n sosatie-braai kompetisie terwyl Johnny Takbok en PROP se musiek vanuit die saal gehoor kon word.

Na baie proe het die beoordelaars hul punte oorgegee om getel en geverifieer te word. Anker se skoolhoof Francois du Toit het ‘n derde plek losgebraai, Wikus Strydom was tweede en Jaco Geyer is as braaimeester aangewys.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button