VANDERBIJLPARK – Sondagoggend het die manne en vroue van CLIQUE FREESTATE motorfietsklub vrolik vanuit Sasolburg vertrek na die Toy Run in Vanderbijlpark.
Hul road captain, André Schoeman en sy vrou Amanda, het soos altyd heel agter gery en ‘n oog oor almal gehou. Hul motorfietse gelaai met teddiebere.

Teen 15:00 het die groep besluit om huiswaarts te keer. Klub president Eugene van Heerden sê André het die keer vooruit gery, iets wat hy nooit andersins gedoen het nie.
Net na die R59 brug wat oor die R57 strek het André se motorfiets van die pad afgegaan en bome langs die pad getref.
“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. Ek het op die ongelukstoneel afgekom. Amanda het in die pad gelê en André by die bome.”
Volgens Eugene het André nog vlak asemgehaal toe hy hom bereik het, maar is kort daarna oorlede. Amanda is tans in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal in Sandton met onder andere ‘n gebreekte been, gebreekte ribbes en ‘n rugbesering.

Vir Eugene en die res van CLIQUE FREESTATE is die verlies van hul vriend baie hartseer. “Ek en hy was al by die 25 jaar vriende. Hy sou die naweek sy vyfjaar badge kry vir die klub,” vertel Eugene.
Nou gaan hul Saterdag sy begrafnisdiens moet hou. André was baie geliefd onder al die bikers, nie net sy eie klub nie. Boodskappe van simpatie stroom van oral in.
Eugene sê: “Ons het ‘n steunpilaar verloor. Hy was die een wat die klub bymekaar gehou het. Hy was so lief vir motorfiets ry. Daar was dae wat hy ons net almal sou bel en sê, ‘kom ons gaan ry’.”
Op CLIQUE FREESTATE se Facebookblad het hulle geskryf: “Woorde ontbreek ons. Hoe neem mens afskeid van so ‘n groot siel? André Schoeman. Jy was ‘n mens met ‘n reuse hart, ‘n staatmaker, ‘n rots.
“Vir jou gesin, jou familie en vir ons as klub. Jy los ‘n merk hier op aarde wat vir lank met ons gaan saamlewe. Sterkte aan Para, die kinders en die familie. Jy het jou vlerke ontvang. Rus sag by Jesus se voete. Die Clique het nie net ‘n broer verloor nie, maar ‘n rots.”
