VANDERBIJLPARK – Sondag, 30 November 2025 sal onthou word as die dag waarop een van die grootste Toy Runs in 30 jaar in die Vaaldriehoek gehou is.
Hierdie jaar het die motorfietsryers by Hoff’s Place in Ravelstraat vergader voordat hulle die pad na die Centurions MCC se klubgronde in Shakespearestraat aangedurf het.

Daar was motorfietse van alle grotes en make. Klubs het van so ver as die Rand gekom en elkeen was gelaai met speelgoed.
Hierdie jaar is die massa motorfietse ook vergesel deur ‘n party bus en soos gewoonlik het Kersvader heel voor op ‘n bakkie gery, terwyl ‘n ambulans die agterhoede gedek het.
By die klubgronde was daar motors oral, met mense wat opgewonde met kameras gereed gestaan het. ‘n Mens kon die gebrul van die motorfietse van ver hoor, maar niemand was die massa te wagte nie.

Een na die ander het die motorfietse by die afdraaipad ingedraai en langs die ou swembadgronde hul weg na die hek gevind. Plek-plek het die stoet tot stilstand gekom, om die bottelnek by die hek weg te werk, maar uiteindelik het almal hul plek in die son gevind.
Binne was die stalletjies reeds opgeslaan, DJ Ben se musiek het die voete laat jeuk en die saal was gereed om die skenkings te ontvang.

Die bikers het ‘n lang ry gevorm en die hoop teddiebere, poppe en ander speelgoed het al hoe groter geword. Op die verhoog is die bokse met nie-bederfbare kos en badkamerbenodighede gepak.
Nie net die bikers het gegee nie. Gesinne het uit motors geklim en ook aangedra. Daar is gevra en die gemeenskap het saam met die bikers gespan en net gegee.

Al die speelgoed en ander benodighede sal nou onder hulpbehoewendes uitgedeel word. Buite is daar vrolik gekuier, gedans en natuurlik het van die bikers hul kans geneem om ‘n paar doughnuts in die sirkel te gooi dat mens net sien rook trek.
Jacké Labuschagne, deel van die mediesespan op diens vir die dag, maar ook lid van Leader of the Pack, het alles en almal bekyk en dit baie mooi saamgevat met: “Dit is die hart van ‘n biker.”
