NewsNews

Maureen dra vele hoede, en dit soms tegelyk

Van Voortrekkerleier tot by taalkundige en chauffeur vir die kinders... Maureen van Helden vervul vele rolle.

VANDERBIJLPARK – Maureen van Helden glimlag altyd. Maak nie saak waar jy haar raakloop nie, haar oë skitter en sy lag gemaklik. Sy lyk altyd rustig, maar agter die rustigheid is ‘n skedule wat die meeste mense na hul asems sal laat snak.

Nie net is sy ma van vier talentvolle kinders wat heeldag van dansklas na dramaklas en meer rondgery moet word nie, sy help ook wanneer nodig by haar man se besigheid, doen vryskut taalwerk, hanteer verskeie WhatsApp- en Facebookgroepe en dan is daar die Voortrekkers.

Maureen was ‘n Voortrekker op skool en het daar ‘n sagte plek vir die organisasie ontwikkel. Toe haar oudste in graad een is, het hy by die Orion Kommando aangesluit en die jaar daarna het sy sussie gevolg.

Dit was toe wat sy gevra is om net uit te help as offisier vir een van die spannetjies. Dis sewe jaar later en vandag is sy Orion se kommandoleier.

“Om Voortrekker te wees leer die kinders van probleemoplossing en om anders na die lewe te kyk. Hulle leer ook dat alles nie dadelik in jou skoot val nie.

“‘n Voortrekker in die laerskool werk vir sewe jaar baie hard, voordat hulle die Voorslag toekenning kan verdien. Dieselfde met die verkenners in die hoërskool.”

Sy is self nie seker waar kry sy al die energie vandaan en hoe alles in plek val nie. “Soms weet ek nie waar om te vat of te los nie,” lag sy. “Ek dink my grootste voordeel is dat ek my werk van enige plek af kan doen. Selfs al sit ek en wag vir die kinders.”

Maureen het ook ‘n natuurlike aanleg vir tale. Sy het Frans en Latyn op skool geneem en na skool Teologie by die eertydse PU vir CHO gaan swot. Hier het sy haar honneurs in Grieks, Hebreeus, Siries, Latyn en Aramees gedoen.

Sy besit dan ook meer as 200 woordeboeke en Afrikaanse bronne. Behalwe vir tale, het sy ‘n ingebore talent vir sang en het sy in haar studentedae in die PUK-koor gesing.

Daardie jare was die bekende Awie van Wyk nog die koor se afrigter. Dis ook hier waar sy haar man ontmoet het. Die sang het met die jare bietjie agterweë gebly alhoewel sy nog so nou en dan saam met Franz Geldenhuys optree.

Onlangs was sy en haar man ook deel van die PUK-koor se 70 jaar reünie waar almal as ‘n massakoor opgetree het. Bowenal geniet sy dit om betrokke te wees by haar gemeenskap en haar kinders se lewens.

“Ek is die vredemaker,” beduie sy. Alhoewel sy baie besig is, het sy altyd tyd vir gesels, luister sy graag en trek mense na haar toe aan. Voorwaar ‘n mense-mens met ‘n hart van goud en baie energie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button