Hoe om voëls na ‘n storm te help
Daar word tans baie haelstorms regoor Gauteng ervaar. Die Vaal het ook onder hewige reënbuie deurgeloop.
Ná storms moet mense ‘n minuut neem en hul tuine nagaan vir babavoeltjies wat uit ‘n nes geval het, of net algemeen deurdrenkte voëls wat dalk nie kan vlieg nie.
“Koue is een ding, koud, nat en beseer is dodelik,” waarsku die Suid-Afrikaanse Wildlewensrehabilitasiesentrum (South African Wildlife Rehabilitation Centre).
As enige beserings sigbaar is of jy vermoed iets meer as net “nat,” skakel asseblief die sentrum dadelik.
Wat jy kan doen as jy ‘n nat voël in jou tuin vind:
* Plaas ‘n skoon handdoek oor die voël, en hou sy vlerke teen sy lyf vas. Tel dit sagkens op, hou albei hande stewig om die voël, en ondersteun sy bene en voete. Pas op vir jou vingers in die geval van roofvoëls (hul kloue is erger as die byt).
* Neem die voël na binne, en plaas dit in ‘n voorbereide boks/mandjie.
* Plaas ‘n handdoek of kombers (of papierhanddoek) onder die voete om te keer dat dit rondglip, met baie luggate ingesteek om lug in te laat.
* Gebruik ‘n haardroër op LAE hitte om die voël droog te maak.


Belangrik
Hou een hand tussen die voël en die haardroër sodat jy die hitte kan voel. Maak seker jy brand nie die voël nie.
Verseker dat daar nie ‘n massiewe opbou van hitte in die boks is terwyl jy droogmaak nie.
Sodra sy vere opgepof en die voël warm is, laat dit toe om af te koel tot kamertemperatuur.
Verseker dit is in ‘n stresvrye omgewing, weg van mense, troeteldiere of geraas.
Dit sou verstandig wees om die voël ongestoord in die boks te laat vir die aand, sodat dit heeltemal kan uitrus en herstel.
Laat dit los waar jy dit gevind het, so vroeg as moontlik in die oggend (hulle begin tjirp van 03:30).
MOENIE die voël uit sy bekende area skuif wanneer jy dit loslaat nie.

Uile
In die geval van ‘n uil moet hulle los gelaat word sodra hul droog en die storm verby is. Veral in die nag sodat hulle kan jag.
MOENIE die voël in die lug opgooi nie – laat dit self wegvlieg.
MOENIE vloeistof of kos gee nie. Laat die uil net op die vroegste moontlike tyd los.
As jy die uil vir meer as ses uur moet inhou, skakel asseblief die Suid-Afrikaanse Wildlewensrehabilitasiesentrum by 073 112 1131 vir riglyne.
