VANDERBIJLPARK – Vir Voortrekkers in die laerskool is daar die Voorslagtoekenning wat hulle in graad sewe kan verdien. Nie ‘n maklike taak nie.
Die Voortrekkers in die hoërskool se hoogste toekenning is egter ‘n perd van ‘n heel ander kleur. Dit vereis baie harde werk, dissipline en toewyding.
Die Presidentverkennertoekenning word toegeken aan graad 12 kandidate wat aan streng vereistes voldoen.
Dis ’n simbool van uitnemendheid in leierskap, diensbaarheid, kultuur, en persoonlike ontwikkeling en is sedert 1967 ’n gesogte prestasie.
Onlangs het Megan Benecke, Gustav du Preez en Janré Viljoen van die Orion Kommando hierdie eer te beurt geval. Aan die begin van die jaar het hulle die teoretiese evaluering, bekend as Hoofleierswag, voltooi.
Daarna is hulle uitgenooi na ‘n landswye nasionale afrondingskamp voordat hulle die Presidentsverkennertoekenning verwerf het.
Hierdie toekenning span die kroon op hulle betrokkenheid as jeuglede van Die Voortrekkers. Orion Voortrekkers is besonder trots op hierdie drie jongmense.
Vir meer inligting oor Die Voortrekkers, besoek https:// voortrekkers.co.za of stuur ‘n e-pos aan orionvoortrekkers@gmail.com.
