VANDERBIJLPARK – Katinka Pollac het 15 jaar gelede ‘n ou, goue bed gekoop. Haar man het wenkbroue opgetrek, want mooi was dit regtig nie.
Katinka het haar nie aan hom gesteur nie en die bed oorgeverf. Kort voor lank het sy begin om meer meubels te koop, te restoureer, of net oor te verf.

Toe sy weer haar oë uitvee het sy ‘n besigheid vanuit hul motorhuis begin. Soos wat sy nou nog doen. En elke stuk kry individuele aandag. “Ek het nog nooit weer opgehou verf nie,” beduie sy.
Alhoewel sy dit geniet om meubels te restoureer of weer nuwe lewe te gee, is dit die mense aan wie die goed behoort wat haar die meeste interesseer.
“Ek gaan deur seisoene saam met my kliënte. Daar is van hulle vir wie ek dieselfde meubelstuk al ‘n paar maal oorgedoen het. Dan wil hulle dit geverf hê, dan wil hulle al die verf af hê,” lag sy.
Dis die dat baie van haar kliënte ook vriende word. Sy onthou die eerste kas wat sy vir Nadine Herbst moes verf.
“Nadine het op daardie stadium nie ver van my gebly nie en ons het besluit ons gaan self die kas straataf dra.”
Die twee het uiteindelik met baie sukkel en lag die kas op sy plek gekry. Katinka is by uitstek ‘n ekstrovert. Sy gesels lekker en luister graag. Is trots op haar kinders en geniet wat sy doen.
“Dis vir my lekker om mooi goed te maak. Om iets nuuts te skep uit dit wat was.” Soos wat sy op haar Time & Again Gifts and Decor Facebookblad beskryf:
“A decade of creativity, passion, and purpose. Every project tells a story, every vision brought to life fills my heart. Here’s to making the world a little more beautiful, one masterpiece at a time!
