NewsNews

Ek sê maar net… ‘n Mens kry honde, dan kry jy Pekinese

RUBRIEK - My skedule en lewe word bepaal deur drie platneus hondjies wat dink ek is op aarde geplaas om 100% net na hul wil en wense op te tree... sug

RUBRIEK – Pekinese. Ek het drie. Het hulle geërf. Was Ma se honde. Tans gee hul my grys hare. Op die oog af lyk hul so onskuldig, maar ‘Pekinese’ is ‘n spesie op hul eie.

Oorspronklik geteel om as skoothonde vir die koninklikes te dien. Hulle is alles wat ander honde nie is nie.

Vir een dink ek hulle is êrens langs die pad gekruis met persiese katte. Dis lang hare net waar jy kyk en jy kan dit maar laat skeer, hare sal steeds oral vaskleef.

Kleinsus Antjie dink nie veel van wat ek verwag sy moet doen nie. Foto’s Gerda Bruinette

Dan nes katte luister hulle glad nie. Hulle hoor jou, maar hulle ignoreer jou. Hulle doen wat hulle wil, wanneer hul wil en soos hul wil. Jy is nie hul eienaar nie, o nee, jy is hul onderdaan.

Ma het die drie vreeslik bederf en goed toegelaat wat nie toegelaat moet word nie. Nou sit ek met twee 10-jariges en ‘n sewejarige wat vergeet het, ek het toe hul klein was ure spandeer om hul te leer om buite hul dinge te gaan doen.

Bygesê ek het destyds die hulp van my Labrador, Nooi, gehad en Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi het by Nooi geleer.

Natuurlik hou hul daarvan om in die gras te rol en in die modder te gaan lê. Wag hul net totdat ek vloere was om dan met ‘n hooghartige stertswaai oor die nat vloer te loop en modderspoortjies oral te los.

Her Royal Naughtyness Heidi, “drama queen” van formaat, maar luister is min.

Kom ek net laat by die huis van die werk af, is al drie onmiddellik kwaad as ek nie dadelik kan kos gee nie. Sny ek vir hul ‘n stukkie hoender of iets op, nog ‘n ding wat Ma begin het, om saam met hul hondekos te gee, sal Kleinsus Antjie haar poot op my voet stamp om my aan te jaag.

Gaan ek die aand uit, lê hul die volgende dag met hul stertkante na my toe om hul misnoeë met my, hul diensmeisie, aan te dui.

Kom hier mense begin hul blaf en hul hou aan met blaf totdat die mense (gouer as wat ek sou verkies) huis toe gaan, met hoofpyn.

By die rekenaar sit en werk word nie vir lank geduld nie. Kleinsus Antjie het ‘n skedule. In die aande wil sy die radio en die bedliggie aan hê en verkieslik moet ek dan op die bed gaan lê, sodat sy ook op die bed kan lê.

Doen ek nie dadelik wat haar hoogheid wil hê nie, begin sy te grom en te brom en ek kry kwaai kyke.

So ja, ek vermoed daar gaan nie vreeslike vrede en vreugde hierdie Kerstyd in ons huis wees nie. Die diensmeisie is moeg en gaan staak en die drie Pekinese gaan nie daarvan hou nie.

Ek voorspel ‘n burgeroorlog, wat ek vermoed ek gaan verloor. Help!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button