VF Plus kap ELM oor ‘onbillike’ indiensnemingspraktyke
"Aanstellings en bevorderings moet uitsluitlik op meriete en bevoegdheid berus, ongeag velkleur," sê raadslid Cobus Cato.

VANDERBIJLPARK – Die VF Plus in Emfuleni het sterk beswaar aangeteken teen wat hulle beskryf as growwe ongelykheid in die aanstellings- en bevorderingsprosesse binne die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.
Volgens raadslid Cobus Cato skilder die munisipaliteit se amptelike indiensnemingsverslag ’n eensydige prentjie van transformasie.
Uit ’n totale personeelkorps van 1 782 werknemers, is slegs:
-
71 wit
-
24 bruin
-
5 Indiër
Die verslag vir die 2024/25-finansiële jaar bevestig verder dat daar geen nuwe aanstellings uit hierdie minderheidsgemeenskappe gemaak is nie.

Bevorderings en opleiding
Cato wys daarop dat die gaping in geleenthede selfs duideliker word wanneer daar na professionele ontwikkeling gekyk word:
-
Minderheidsgroepe: Geen bevorderings is aangeteken nie, en slegs een wit vrou het opleiding ontvang.
-
Meerderheidsgroep: In skrille kontras is 200 nuwe aanstellings goedgekeur, terwyl 12 werknemers bevorder is en 117 vir opleiding gekies is.
Meriete bo kwotas
Die VF Plus voer aan dat die huidige fokus op rasgebaseerde kwotas en streng regstellende aksie-maatreëls die munisipaliteit se funksionaliteit kniehalter.
“Die najaag van politieke kwotas ondermyn die skepping van ’n effektiewe arbeidsmag. Dit is uiteindelik die inwoners wat ly weens swak dienslewering en ’n kwynende ekonomiese groeikoers.”
