Bek-en-klouseer kopseer word net erger
Bek-en-klouseer se toename in Gauteng en omliggende provinsies raak nou 'n krisis.
“SA se uitvoerende gesag sal moet ingryp om dit te stuit,” sê Jaco Mulder (Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake).
Mulder het verder gesê dat die staat tot dusver daarin gefaal het om doeltreffende beheer toe te pas.
Daar is veral ‘n skerp toename in Wes-Gauteng in die omgewing van Tarlton.
Suid-Afrika moet noodgedwonge entstof uit Botswana invoer, wat eers na verwagting teen die einde van Januarie 2026 beskikbaar sal wees.
Invoere van Dollvet (Turkse entstof) word ook oorweeg.
“Hierdie vertraging stel produsente bloot aan onaanvaarbare risiko’s. Dit is kommerwekkend dat die departement nie sy beplande ingrypings en tydlyne met boere en met die bedryf kommunikeer nie”.
Intussen word stoeterye met gevestigde bloedlyne en waardevolle teelmateriaal ernstig benadeel, met ernstige medium- en langtermyngevolge vir die rooivleisbedryf en voedselsekerheid.
“Die wetgewende gesag, en in besonder die portefeuljekomitees wat oorsig hou oor die uitvoerende gesag, het nou ’n grondwetlike plig om indringend in te gryp en die uitvoerende gesag tot volle verantwoording te roep,” sê Mulder.
Amptenare van die Gautengse departement van landbou, die staatsveearts en Karan Beef het reeds voor die Gautengse portefeuljekomitee vir landbou verskyn.
“Waar die uitvoerende gesag faal, moet die wetgewende gesag binne sy mandaat optree om die krisis te hanteer,” sê Mulder.
Intussen word ’n dringende beroep op boere en voerkrale gedoen om streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas en hande te vat met georganiseerde landbou en instellings, soos die Rooivleisprodusente-organisasie, om saam aan praktiese en uitvoerbare oplossings te werk.
