NewsNews

Honde, hitte en hoë humiditeit veroorsaak moeilikheid

Wat kan help om te keer dat jou hond sere ontwikkel in die warm weer? Dr Letitia Swartz van Sasolburg Veearts gee raad...

VANDERBIJLPARK – Vrydag was Baba Bessie, ‘n 10½-jaar oue Pekinese, nog op en wakker en gesond.

Sy het wel agter haar ore bly krap, maar sy het die neiging om dit te doen wanneer sy maak asof sy nie hoor as sy geroep word nie.

Saterdagoggend was haar nek aan die een kant een groot swart seer, haar regteroor vuurwarm en dit het gelyk of die sig wou uitloop.

Die een kant van Bessie se nek en selfs haar oor se hare moes geskeer word. Hierdie foto’s is geneem na drie dae se behandeling. Dit kan tot ‘n maand neem om dit heeltemal hok te slaan.

Sy is dadelik veearts toe gevat wat haar moes sedeer sodat hy haar nek en oor kon skoon skeer en die wond kon skoonmaak.

Nou is sy op twee tipe pille en dis elke dag ‘n stryd om oordruppels in haar ore te kry en die wond skoon te maak.

Wat het dit veroorsaak? Die veearts se antwoord was kort en kragtig. “Honde met digte pelse en die hitte werk nie saam nie.”

Dr Letitia Swartz, ‘n veearts van Sasolburg stem saam. Sy sê weens die hitte sukkel veral die honderasse met baie plooie en voue in die vel met velsensitiwiteit, ekseem en hot spots.

“Dit kom gewoonlik oor die gesig, nek en voorste gedeelte van die lyf voor en kan oornag gebeur.”

In die hitte drink honde ook meer water en in die geval van rasse met plat gesiggies soos ‘n Pekinese loop die water dan in die voue van hul velle in.

“Ons sien dit ook baie by honde wat lief is vir swem, soos die Labrador. Hulle bly die heeltyd klam en dit veroorsaak bakterieë en selfs swamme,” verduidelik sy.

Haar raad is om honde met digte pelse te laat skeer in die somer. “Gee hul die sogenaamde winter’s cut, want ‘n summer’s cut kan weer ander probleme veroorsaak.

“Die haartjies is dan so kort en grof as dit uitgroei dat dit die honde irriteer en dan begin hul te krap, byt en lek en dit kan ook weer sere veroorsaak,” is haar raad.

Letitia beveel ook aan dat honde gereeld teen vel parasiete, soos vlooie, behandel moet word, veral met al die reën wat ons tans kry.

Indien jou honde buite is deur die dag, maak seker daar is genoeg koelte vir hulle en spuit sonblokmiddel oor hul lywe, kop en neusbrûe.

Sterkte met al jul hondekinders en dink maar aan Baba Bessie…. Sy haat oordruppels met ‘n passie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button