Local newsNewsNews

Ruardt skenk hasie van hoop op 10de verjaarsdag

Hy is net na sy geboorte in die NNICU opgeneem, 10 jaar later het hy die hospitaal besoek waar sy lewe gered is...

VANDERBIJLPARK – Ruardt Dean Herbst het Maandag sy 10de verjaarsdag gevier. Vir sy verjaarsdag het hy besluit hy wil die Neonatale Sorgeenheid besoek waar hy destyds na sy geboorte opgeneem is.

Die hasie van hoop wat nou deel van die neonatale sorgeenheid is.

Vir sy ouers, Nadine en Francois, is die gebeure van ‘n dekade gelede nog vars in hul geheue. Hulle is steeds dankbaar dat hy vandag as ‘n gesonde seun die lewe kan aandurf. Tien jaar gelede het hy dit amper nie gemaak nie.

Nadine sê alles het goed verloop tydens haar swangerskap. Met die laaste sonar was Ruardt ‘n gesonde baba van 3.8kg. Die keisersnee is beplan vir 8 Januarie.

Dinge het egter nie heeltemal so uitgewerk nie. Op sy oupa se verjaardag, 5 Januarie het Ruardt besluit dis tyd om die wêreld aan te durf. Dr. René Jansen van Rensburg het die keisersnee gedoen.

Ruardt in die broeikas waar hy 32 dae spandeer het.

“Sy gesig het boekdele gespreek toe die prosedure voltooi is,” onthou Nadine. Ruardt het net 1,9kg geweeg en was amper dood omdat daar baie min vrugwater oor was.

Hy het ernstige longprobleme gehad en is in die Neonatale Intensiewe Sorgeenheid (NICU) opgeneem.

Nadine het geborsvoed en in ‘n woonstel by die hospitaal gebly. Sy onthou dat hulle haar een oggend net na 02:00 gebel het.

“Ek het hulle nie kans gegee om klaar te praat nie, net my keisersnee sny vasgehou en na die tweede vloer van die hospitaal gehardloop,” vertel sy.

Toe sy uitasem en vreesbevange opdaag, het die personeel haar dadelik gerusgestel. Ruardt was honger en wou net melk hê.

Tussen die mediese personeel se versorging en moedersmelk het Ruardt elke dag sterker geword en is hy na 32 dae ontslaan.

Sy pa het vir hom ‘n rugbybal gekoop om sy tuiskoms te vier. Vandag is hy sterk, fris en gesond en reeds ‘n kranige rugbyspeler.

5 Januarie het die gesin weer die pad na Sandton Mediclinic aangedurf. Suster Reva het hul met ope arms ontvang en Ruardt het aan haar ‘n geel hasie van hoop oorhandig.

Sy het die hasie dadelik Bees gedoop, want dit is Ruardt se bynaam en belowe om dit aan elke mamma in die NICU te wys as ’n simbool van hoop — selfs vir babas wat so min as 400 gram weeg.

Ruardt was tevrede en het gesê oor tien jaar wil hy sy Springbokrugbytrui daar gaan ophang. Want, soos sy storie bewys — waar daar geloof is, is daar hoop, en waar daar hoop is, is daar lewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button