Local newsNewsNews

Gestremde Magda (39) verloor die stryd

VANDERBIJLPARK - "I don't know" was die antwoord keer op keer as die bekommerde familie navraag oor hul gestremde sussie gedoen het. Nou is hul gestremde sussie oorlede.

Vaalweekblad het aan die einde van verlede jaar oor die gestremde Magda Esterhuizen (39) van Vanderbijlpark berig, toe haar gesin gehoop het om haar in ‘n versorgingsoord te laat opneem.

Magda het egter siek geword voordat dit kon realiseer en is op 12 November na die Sebokeng-hospitaal geneem.

“Ons wou haar graag by Cormed laat opneem, maar Magda behoort nie aan ‘n siekefonds nie, en ons kon dit nie bekostig nie,” vertel Christelle Kritzinger, een van Magda se drie susters.

Hulle is by die hospitaal meegedeel dat Magda ‘n kamera moet sluk om die fout te probeer vasstel: sy het aanhou opbring en wou niks eet of drink nie. Sy moes ook ‘n breinskandering kry.

“Die dokter het gesê omdat Magda gestremd en spasties is, hulle haar narkose moet gee om die toets te doen,” sê Christelle.

Toe hulle die volgende dan vra oor die uitslae van die toets, is hul meegedeel dat die toets nie gedoen kon word nie, omdat Magda glo nie wou saamwerk nie.

Wyle Magda voor sy ernstig siek geword het.

“Magda het daar bly lê in Sebokeng-hospitaal waar sy eintlik geen diens gekry het nie. Hulle wou by ons weet hoe gee ons haar kos gee, want hulle weet nie hoe nie,” vertel Christelle. ”

Sy was die eendag so dors dat sy ‘n vol tietiebottel water gedrink het (sy kon nie self ‘n beker of glas vashou nie).”

Die familie moes ook besoektyd self inspring om Magda skoon te maak, as sy opgegooi het, of haar doek geruil moes word.

“As sy weer mooi skoon is dan sê sy vir ons DASY. Sy kon nie regtig praat nie, net sekere woordjies sê van kleins af en DASY was soos dankie sê vir haar”.

Magda se breinskandering is toe wel op 4 Desember gedoen.

Daar was egter geen terugvoer aan die familie gegee nie. Hulle is op 8 Desember gekontak en gesê Magda is ontslaan, hulle moet haar gaan haal.

“Met ons aankoms kon ons nie glo sy word huistoe gestuur nie. Sy was pap net so siek soos wat sy amper ‘n maand terug daar aangekom het. Ek het weer oor die uitslag van die breinskandering gevra, maar al antwoord was skouers optrek en I don’t know,” vertel Christelle.

Christelle was slim genoeg om ‘n foto te neem van die breinskandering in Magda se lêer. Sy het Els Medsorg in Midvaal gevra om daarmee, asook met Magda se verdere versorging te help.

By Elsmed is Magda op suurstof geplaas (haar suurstof vlak was maar 45).

“Hulle het haar regtig probeer help, baie beter behandeling as by die hospitaal,” sê Christelle.

Elsmed het ook ‘n dokter gevra om na die breinskadering te kyk. Hy het bevind Magda het hewige drukking op die brein, en slegs ‘n breinoperasie die drukking kon verlig. Dit is egter ‘n operasie wat Magda weens haar gesondheid nie sou kon deurmaak nie.

Magda is so goed moontlik by Elsmed versorg, maar op 10 Desember om 05:00 is die familie in kennis gestel dat Magda oorlede is.

“Ek dank die Here dat sy haar laaste dae liefdevol behandel is voor sy haar ewige rus kon vind. Ons wil dankie sê vir almal en vir vaalweekblad wat saam gebid het vir Magda se herstel maar die Here het ‘n engel nodig gehad in die Hemel,” sluit Christelle af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button