Jou kat of hond kan diabetes ontwikkel
Diabetes is ’n ernstige toestand by honde en katte wat, indien dit onbehandeld bly, kan lei tot komplikasies soos blindheid, senuweeskade en orgaanversaking.
Die goeie nuus is dat dit hanteerbaar is, en as jy dit vroegtydig opmerk, kan jou geliefde troeteldier steeds ’n volwaardige en gelukkige lewe lei.
Statistieke dui daarop dat een uit elke 308 honde die siekte sal ontwikkel, met tefies wat die grootste risiko loop.
Vir katte is die syfers ietwat hoër: een uit 230. Dit blyk ook dat gekastreerde of gesteriliseerde katte ’n verhoogde risiko het.
Hoewel daar geen geneesmiddel is nie, kan dit bestuur word om jou troeteldier se risiko vir komplikasies te verlaag sodat hulle ’n gelukkige lewe kan geniet.
Hoe vroeër jy dit dit opmerk, hoe beter.
Tekens van diabetes by honde en katte
-
Swakheid of moegheid: Lê jou kat rond wanneer hy gewoonlik sou wou speel? Word jou hond na vyf minute se stap moeg, of lyk hy onwillig om hoegenaamd te gaan stap?
-
Uiterste dors: Moet jy die waterbak meer gereeld vul?
-
Gereelde urinering: Maak jou troeteldier jou in die nag wakker om uit te gaan terwyl hy voorheen deurgelaap het? Of gaan hy meer gereeld as vantevore uit?
-
Verhoogde eetlus: Het jou troeteldier se kosrekening gestyg? Sit jou hond of kat by ’n leë kosbak nadat hy pas ’n groot porsie verober het?
-
Gewigsverlies: Lyk jou troeteldiermaer al eet hy goed?
Enige van hierdie tekens kan ’n waarskuwing wees en moet met jou veearts bespreek word.

Diagnose en bestuur van diabetes
Daar is verskeie toetse wat jou veearts kan doen as hulle vermoed jou hond of kat het diabetes. Die meeste behels ’n bloed- of urinemonster.
-
Oefening: Maak seker jou troeteldier kry gereelde oefening om bloedglukosevlakke te verlaag.
-
Dieet: Voer jou dier gesonde, veearts-goedgekeurde kos en moenie vir hulle lekkernye van die etenstafel af gee nie.
-
Stres: Angs kan jou hond of kat se bloedglukosevlakke beïnvloed. Vermy sover moontlik snellers wat hulle angstig maak, soos om vir lang rukke alleen by die huis gelaat te word.
-
Gereelde toetsing: Jy kan jou troeteldier se bloedglukosevlakke tuis toets met ’n toetsstel, soos Zoetis se dierspesifieke glukosemeter (Alphatrak). Dit benodig slegs ’n klein bloedmonster en is maklik om te gebruik.
-
Inspuitings: Jou troeteldier mag dalk insulien-inspuitings benodig. Jou veearts kan jou wys hoe om dit tuis te doen, sodat jou troeteldier nie die stres van gereelde veeartsuitstappies hoef te ervaar nie.
Bron: Dr. Tarryn Dent, Besigheidseenheid-leier vir Geselskapsdiere by die wêreldwye dieregesondheidsmaatskappy, Zoetis Suid-Afrika.
