Ken jou regte by padblokkades
Dit is nie altyd maklik om vir jou regte op te staan nie, maar hier is raad vir motoriste oor hul regte by padblokkades.

Die Nasionale Motoriste Vereniging van Suid-Afrika gee motoriste die versekering dat hulle nie verplig is om hul verkeersboetes by padblokkades te betaal nie.
Dit volg ná klagtes van motoriste wat beweer dat hulle by padblokkades voorgekeer is en gevra is om boetes op die plek te betaal, of andersins arrestasie in die gesig te staar.
Volgens die vereniging bied padblokkades wel die opsie om ’n boete onmiddellik te betaal, maar dit is nie verpligtend nie.
“Statistiek aan my kant toon dat nege uit 10 motoriste geïntimideer of met arrestasie gedreig word as hulle nie by ’n padblokkade betaal nie. Jy is nie verplig om by ’n padblokkade te betaal nie,” sê Bobby Gage, Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Motoriste Vereniging.
Motoriste is nie veronderstel om met arrestasie gedreig te word as hulle nie ’n boete onmiddellik betaal nie.
Die vereniging sê motoriste moet hul regte uitoefen indien hulle wel gedreig word, en versoek dat ’n lasbrief vir arrestasie eers deur ’n hof verkry word.
