NewsNews

Valie wandel tussen gorillas in Uganda

Dit was vroeg opstaan en ver stap, maar dit was alles die moeite werd.

VANDERBIJLPARK – Om gorillas in hul natuurlike habitat te kan beleef is nie vir elkeen beskore nie. Die geluk het Hennie de Klerk verlede jaar ter beurt geval.

Die silwerrug gorilla mannetjie is bewus van die mense, maar hy lyk asof hy hulle as ‘n laer spesie beskou, terwyl hy diep dink… dalk oor evolusie?

Hy was eintlik op ‘n navorsingsreis om miskruiers af te neem in Kenia, toe hul die geleentheid kry om Uganda vir drie dae te besoek. Dit was ‘n groot avontuur net om daar te kom, maar Hennie sê die mense is baie vriendelik.

Groot was sy opwinding toe hul die Bwindi Impenetrable National Park, ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied in suidwes Uganda, kon besoek.

Die gorilla het eers na bowe gestaar alvorens hy op sy sy gedraai het en ‘n rustige oggendslapie geneem het.

Met Hennie-hulle se aankoms by die ingang van die park het die kostes amper sy asem weggeslaan, maar hy het geweet dis ‘n eenkeer in ‘n leeftyd kans. Teen $500 per persoon is dit ‘n baie duur kuier in die woud.

In die digste woud tussen die heuwels is daar sowat 400 gorillas, opgedeel in kleiner groepe van tussen agt en 12. Die gorillas bou elke aand vir hul neste, party in die bome en ander op die grond om in te slaap.

Waar was hierdie gorilla se gedagtes so vroeg in die môre?

“Ons moes ‘n uur wag voordat ons die woud inbeweeg het. Elke gorillagroep word deur drie wagte opgepas en hulle is die heeltyd in radioverbinding met die veldwagters en gidse.

Die wagte het laat weet die gorillas het nog nie afgekom nie, hulle slaap nog” vertel Hennie. Uiteindelik kon hul die steiltes en afdraandes van die woud aandurf saam met ‘n veldgids en ‘n gewapende veldwagter.

Die kleuter het homself besig gehou deur tot heelbo te klim en dan buig die tak met sy gewig tot onder, dan spring hy af en as die boom regop staan doen hy dit weer.

Die wapen was meer om die groep teen olifante te beskerm as die gorillas. Toe hul die groep gorillas gewaar, moes almal maskers dra.

“Ons was seker so 8m van hul af. Die eerste een wat ek raakgesien het, het hoog in die boom gesit,” vertel Hennie.

Hennie de Klerk het die geleentheid om die gorillas in hul natuurlike habitat te besoek aangegryp. Foto verskaf/Rina de Klerk

Hy sê die gorillas het hul glad nie aan die mense gesteur nie en net rustig voortgegaan. “Ek dink hulle dink ons is ‘n laer spesie,” lag Hennie. “Ek is nou ‘n groot fan van gorillas.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button