Bloedvoorraad is tans laag!
’n Enkele bloedskenking neem slegs ’n paar minute en kan tot drie lewens red.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) doen ’n beroep op die publiek om 2026 te begin deur bloed te skenk.
Die SANBS moedig veral skenkers met O- en B-bloedgroepe aan om skenkersentrums so gou moontlik te besoek.
O-negatief is kritiek noodsaaklik tydens noodgevalle en Groep B speel ’n sleutelrol in die handhawing van gebalanseerde voorraadvlakke.
Die SANBS beklemtoon egter dat alle bloedgroepe benodig en welkom is.
Die nasionale bloedvoorraad is tans laer as die optimale vlakke na afloop van die feesseisoen.
Januarie is histories ’n uitdagende tydperk vir bloedinvorderings.
Vakansiereise, minder bloedskenkingsgeleenthede by werksplekke en kampusse, en ontwrigte skenkingsroetines gedurende Desember dra alles by tot ’n merkbare afname in skenkings, terwyl die vraag na bloed konstant bly.
Mense, wat iemand se geliefde ouers, kinders, broer of suster ens. insluit, se oorlewing hang af van die beskikbaarheid van geskenkte bloed.
“As skenkers tyd inruim om vroeg in die jaar te skenk, kan ons die nasionale bloedvoorraad vinnig stabiliseer en verseker dat hospitale kan voortgaan om pasiënte sonder onderbreking te versorg,” sê Thandi Mosupye, senior bestuurder vir bemarking, kommunikasie en handelsmerk by die SANBS.
